Die regte deur, die regte pad, die regte eindbestemming!
top of page

Die regte deur, die regte pad, die regte eindbestemming!


Geloof is om deur ’n spesifieke deur in te stap en om op ’n spesifieke pad te loop. Enige deur is nie maar net die regte deur nie. In Johannes 10 sê Jesus Hyself is die regte deur. Alle paaie lei ook nie na Rome toe nie. Enige pad is nie maar net die regte pad na God toe nie. Daar's een regte pad. Hierdie regte pad het 'n naam: Jesus! So leer Hy ons in Johannes 14. Hierdie pad het ook ’n spesifieke eindbestemming: God se ewige woning! Hyself sal sorg dat ons ons eindbestemming bereik. So skryf Paulus in Filippense 1:6. Op Jesus se pad is daar ’n permanente hemelse padwyser en gids aanwesig. Sy naam is die Heilige Gees. Hy waarborg dat ons die wenstreep sal haal. So vertel Paulus vir ons in Efesiërs 1:13-14. Die Gees hou ons styf vas. Hy maak seker ons hou enduit koers. As ons val, tel Hy ons op. As ons verdwaal en van die regte roete afwyk, soek Hy ons elke keer op. Nooit los die Here ons alleen op sy goeie pad nie.

God wil al sy mense hier en nou en vir altyd by Hom hê. Hy het niemand van ons gemaak om God-loos en goddeloos te leef of sterf nie. Daarom het Jesus hierdie nuwe pad Godwaarts gebou. Daarom maak die reis soontoe ook baie saak vir Hom. Nie net ons eindbestemming nie, maar ook ons pad soontoe is God se pad. Beide dra Jesus se naam volgens Johannes 14:6. Die lewende Heer reis hier en nou saam met ons, want vir Hom is elke tree wat ons gee belangrik. Jesus wil hê ons moet elke dag so leef dat ander mense langs ons sal wil inval op die enigste hoofpad na die Godstad. Ons is die aangename aroma van de Here wat sy lewensgeur moet versprei, soos wat Paulus in 2 Korintiërs 2 skryf.

Reis reg. Reis gelowig!


bottom of page