Things I wish I’d known before we became parents [resensie]
top of page

Things I wish I’d known before we became parents [resensie]


‘n Mens het geld, en dan het jy kinders. Jy het nie meer (veel) geld as jy eers kinders het nie (om nie te praat van die dag as hulle tieners word nie)! Jy het vryetyd en dan het jy kinders; kinders sluk jou vryetyd met groot happe in. Jy is met jou lewensmaat getroud, en dan kry julle kinders. Skielik verander dit jou status; jy is eers ouer en dan lewensmaat. Wie het ooit hieraan gedink voordat hulle kinders het?

Dit is die sake wat Gary Chapman en sy vrou bespreek, verseker nie met die doel om jou af te raai om kinders van julle eie te hê nie, maar beslis om te verseker dat jy weet wat vir julle wag. Om jou toe te rus sodat ouerskap nie vir jou ‘n hele klompie negatiewe verrassings inhou nie!

Gary is ‘n berader en skrywer van die veel-gelese The 5 Love Languages-reeks, en hy bedryf ‘n konsultasiemaatskappye wat families raad gee. Hy is ‘n gewilde internasionale spreker. Sy vrou is ‘n professor in berading en ook direkteur van berading en vrouebedieninge by ‘n Baptiste-gemeente in North Carolina. Jy het hier twee toegeruste mense wat oor ‘n onderwerp praat waarvan hulle baie teoretiese asook praktiese kennis het.

Die boek bespreek talle temas, soos onder andere dat dit niks is om oor te lag wanneer jy jou kind van die doeke afhaal nie, dat jou kinders doen wat jy doen en nie wat jy vir hulle sê om te doen nie, dat sosiale vaardighede by mense belangriker is as hulle akademiese prestasies, dat ouers primêr verantwoordelik is vir hulle kinders se emosionele ontwikkeling en dat hulle daardie verantwoordelikheid nie durf afskuif op enigiemand anders nie en dat huwelike wat werk ‘n voorwaarde is om kinders gesond groot te maak – om ‘n huwelik te maak werk kom nie vanself nie maar vereis strategiese beplanning en implementering.

Die hoofstukke is nie lank nie en is so geskryf dat jy amper-oorhaastig dit wil lees. Dit lees so lekker omdat dit eenvoudig geskryf is en op die daaglikse praktyk gebaseer is. Elke hoofstuk sluit af met “Talking it over”, ‘n geleentheid vir twee ouers om te reageer op wat hulle gelees / geleer het, en die inligting te integreer in nuwe praktyke.

Ek sou die boek reeds aanbeveel het slegs op grond van die skrywers, maar die inhoud maak dit ‘n moet-lees vir jong asook voornemende ouers. Doen jouself die guns en leer uit ander se foute: dis veel goedkoper!


bottom of page