top of page
  • deur Elmarie van der Westhuizen

Onthou – God bly getrou


Wanneer dit sleg gaan vergeet ek so maklik van al die kere wat my gebede verhoor is en ek so naby aan die Here gevoel het. Dis nie vreemd dat ek dan kleingelowig en moedeloos raak nie. Toe die Israeliete deur die Jordaan getrek het, het hulle ‘n fisiese teken, ‘n klipstapel, opgerig om hulle aan die Here se goedheid en getrouheid te herinner in die jare wat kom. (Josua 4:4-7)

Andy Stanley van North Point Community Church, Atlanta, vertel van gemeentelede wat kom vertel het hoe die Here hul siek kind genees het – ‘n wonderbaarlike gebedsverhoring. Saam dankbaar daaroor, het hy hulle aangemoedig om dit neer te skryf sodat hulle daaraan herinner kan word wanneer die lewenstorms weer om hulle woed.

‘n Vriendin het onlangs na ‘n tweede aflegging aanvanklik angstig en oorweldig gevoel, maar is deur haar gebedsjoernaal herinner aan God se getrouheid en versorging. Sy kon al haar vrese vir Hom gee in die wete dat Hy ook in hierdie krisis met haar is.

My eie gebedsjoernaal is so ‘n versameling van gebede en gebedsverhorings: ek kan daardeur terugblaai en onthou van al die kere wat ek in afhanklikheid geliefdes voor die Here gebring het. Dit herinner my dan aan God se liefdevolle teenwoordigheid in hierdie moeilike tye en hoeveel van my gebede beantwoord is. Dit bevestig net weer dat God my gebede hoor en verhoor.

Ek kan ook nou, soos in die verlede, weer op Hom vertrou.


bottom of page