Om jou “wolmat” uit te sit
top of page

Om jou “wolmat” uit te sit


“Toemaar, moenie bang wees nie ...” Rigters 6:23b

Gideon was bang. Bang vir die onbekende. Selfs nadat die Here hom ‘n paar maal van sy trou verseker het en aan hom belowe het dat Hy hom gaan help, twyfel hy steeds. Nóg ‘n keer vra hy die Here: “Bewys aan my dat U ons sal verlos.” Saam met die gebed sit hy ’n wolmat buite en sê: “As dit môre nat is van die dou en die grond rondom is droog, sal ek weet dat U my gaan help soos U belowe het.” Die volgende môre ís die wolmat nat en die grond droog. Maar Gideon is steeds onseker. Wéér vra hy: “Moet asseblief nie vir my kwaad word nie. Kan ek vra dat die mat hierdie keer droog bly en die grond rondom nat van die dou moet wees?” Dis asof hy smeek: “Here, bewys nog net één keer aan my dat ek nie alleen in die stryd is nie.” Die volgende môre wás die mat kurkdroog en die grond rondom nat van die dou. (Rigters 6:33-40). ‘n Dag later word die vyand wel verslaan en in die res van Gideon se leeftyd beleef die volk vrede.

Ons hoef nie wolmatte uit te sit om seker van sy trou te wees nie. Ons kan bloot sy wonderlike Woord lees en ons gedagtes op sy Gees in ons fokus. Dis daar waar ons sal ervaar hoe Hy fluister: “Toemaar, moenie bang wees nie, jy sal niks oorkom nie.” (Rigters 6:23b)

Here, dankie vir U onwankelbare beloftes van trou.


bottom of page