Mag jy bly wees oor jou “ja”!
top of page

Mag jy bly wees oor jou “ja”!


Toe sê Debora vir Barak: “Maak jou reg! Vandag gee die Here Sisera in jou mag oor, want die Here self trek voor jou uit!” Rigters 4:14

Ek is so bly die Here werk nie net met groot helde en perfekte mense nie. Want dan sou Hy my nooit kon gebruik nie. Dan sou die woorde in hierdie en al die ander dagboeke nooit moontlik gewees het nie. Maar toe kies die Here ‘n gebroke vrou om duisende ander vroue deur sý woorde te inspireer. Toe kies Hy om – soos destyds in die Rigters-tydperk – breekbare mense wat struikel en val in sy diens te gebruik. Soos Debora. Nie alleen het sy met haar wysheid ander mense geseën nie, maar het sy ook vir Barak oorreed om met net 10 000 soldate ‘n oormag manskappe van die vyand aan te val. En natuurlik het God – omdat dit Sy wil was – aan sy klein volkie ‘n wonderlike oorwinning gegee.

Moet jouself en die krag en invloed wat jy deur die werking van die Gees kan hê, nooit onderskat nie. Die waarheid is dat ons Vader elkeen van ons – hoe feilbaar ook al – kragdadig kan en wil gebruik.

Jy kan in een of ‘n duisend mense se lewens ‘n wonderlike verskil kan maak. Mag jy onder alle omstandighede “ja” sê as Hy jou roep en mag jy self op ‘n dag sê: “Ek is so bly die Here gebruik nie net groot helde en perfekte mense nie.”

Hier is ek, Here. Gebruik my. Soos ek is.


bottom of page