Geurige kosmaak – geurige Christen-wees
top of page

Geurige kosmaak – geurige Christen-wees


May the example of God’s saints be blessed among those among whom they live; and may his grace flow from heart to heart, until the little one becomes a thousand. Oswald Chambers

Tydens ons onlangse gesinsvakansie het hierdie familie van foodies tog te lekker gekry met broodbak, kosmaak en saam om die etenstafel kuier. Skoonseun Dean wou graag leer brood bak, en ons kon lekker gesels oor die wonder van ‘n teelepel vol droë gisselletjies wat onder die regte omstandighede vermeerder om ‘n hele brood te laat rys, én ‘n lieflike geur vrystel terwyl dit bak.

Wat ‘n teleurstelling toe ons later die huurhuis se speserye wou gebruik, net om te vind dat dit verslaan het. Geen wonder dat Jesus ons vermaan om nie kragtelose sout te wees nie. Daar is deesdae so ‘n heerlike verskeidenheid van vorms sout beskikbaar: variasies van kleure en geure, met kreatiewe name – alles om ons te inspireer om die smaak van kos te verbeter. En met die fyn balans of interessante kombinasies van sout, suur, soet, bitter en die minder bekende umami (pleasant savoury taste) word kosmaak ‘n vreugde en eet ‘n onvergeetlike ondervinding.

So kan ek ook smaak gee aan my omwêreld – die goeie in ander ontwikkel selfs net met my teenwoordigheid, want dis mos eintlik Christus in my, sy liefde en vrede en omgee. Ek moet soos ‘n bossie varsgeplukte kruie wees, soos ‘n flessie van die allerbeste speserye – en geur gee in my omgewing, enige gesprek waarin ek betrokke is ‘n positiewe wending laat neem.

Soms is dit die eenvoudigste kos wat van ‘n probleemsituasie ‘n onvergeetlike geleentheid maak. So kan ek ook my alledaagse stap-saam-met-Jesus, soos daardie Bybelse seuntjie met sy broodjies en vissies, in die hande van Jesus plaas. Hy is die Een wat dit seën, vermeerder en gebruik om ander te voed. Soms is ek nie eens bewus daarvan nie en vind dalk jare later uit dat my genadige woorde teenoor ‘n dwalende vriend of familielid juis die geurmiddel of dalk die bietjie suurdeeg was wat die Here gebruik het om ‘n ommekeer in hierdie persoon se lewe te bewerkstellig.


bottom of page