Woedend
top of page

Woedend


Ek is woedend. Boos. Briesend. Skoorsoekend lus vir rusie. Wil dit vir die wêreld uitskree dat die spoeg spat en die kranse antwoord gee. Ek voel strydlustig en in ’n bui vir konfrontasie. Ervaar siedende drif en beneukte ongemak. Onbeteuld. My pakstuk gaan deurblaas. Ontploffing is onafwendbaar.

Ek is kwaad! En iemand gaan boet.

Op ’n keer ry Jesus Jerusalem op ʼn donkie binne. Paasfees is om die draai en feestelike vreugde hang swaar in die lug. Hy is op pad na sy Vader se huis, opgewonde om te aanbid en saam met vriende die wonderbaarlike uittog uit Egipte te herdenk.

Maar ’n verrassing wag by die tempel: Duisende drom saam. Die lawaai is oorverdowend en die uitbundige gejil en gekibbel maak aanbidding in die voorhof onmoontlik. Wie gee nou om of die heidene kan aanbid of nie? Die Paasfees is vir Jode, broer! “Loan sharks” en verkopers verleen ’n vlooimarkagtige atmosfeer en almal is vrolik, in ’n lekker vakansiebui.

Jesus druk deur die swetende skare. Hy ruik minagting, uitbuitery, onregmatige wins en geldgierigheid en die blik wat Hom op die tempelplein begroet, skok Hom in sy diepste wese.

Hy neem toutjies en gaan sit rustig eenkant om ’n sweep te vleg. Die ritmiese vleg werk Hom op tot raserny.

Jesus Christus spring op en jaag almal met Goddelike krag en outoriteit by die tempel uit. Skape en beeste spat na links en regs en ’n algehele gees van wanorde neem die plein oor. Tafels word omgekeer en geldwisselaars gee verskrik pad. Hokke vlieg oop, vlerke klap en duiwe ontsnap verlig. Vrouens gil, kinders huil en mans vloek woedend. Geld rol die hele plek vol.

Dink jou dit in: Die chaos, verbasing en skok, die godsdienstige leiers wat uithardloop en verslae toekyk. Dit is tog hulle domein. Is hierdie ou mal?

Ek weet hoe dit voel om woedend te word. Oor die simpel ou voor my indraai. Oor die kelner stadig is. Oor my man of kinders wie weet wat gesondig het. Oor iemand my gekritiseer en beledig het. Oor Julius Malema en ander politieke figure se eskapades en streke.

Ek wéét hoe dit voel om woedend te word oor alles en nog wat. Ek ken die wrewelrige begeerte om wraak te neem, die frustrasie en hartkloppings, die briesende trane, die bittere behoefte om iemand of iets skade aan te doen.

Jesus Christus het kwaad geword, woedend en verontwaardig. En die mens in my wil met vreugde uitroep: “As Hy mag, mag ek ook!”

Rob Bell plaas my kinderagtige observasie in perspektief:

“There is a response to anger that’s essentially all about us. Our pride, our ego, all of the ways we work so hard to prop up and protect and defend our selfish little kingdoms. But that isn’t what’s going on here with Jesus. Jesus has identified himself with an injustice larger than himself. There is something divine about his anger because some things are worth getting angry about.”


© 2024 Ekerk Vereniging.

Trots gebou deur Ekerk.

Ekerk bankbesonderhede:


Ekerk Vereniging,

ABSA Bank, Takkode: 632 005,

Rekening: 4059 699 232

South Africa | Suid Afrika

Payfast_white.png
snapscan grys_edited_edited.png
Zapper logo wit.png

Vind, volg & bevriend ons hier:

  • Whatsapp
  • White Instagram Icon
  • White Facebook Icon

Laai ons "app" af:

Apple store wit.png
bottom of page