Ontmoet daardie vergete wyse jongman van die Bybel (Deel II)
top of page

Ontmoet daardie vergete wyse jongman van die Bybel (Deel II)


Verlede week het ons vir Elihu ontmoet, daardie wyse jongman wat vanaf Job 32-37 aan die woord is. Hy waag dit om groot kanonne soos Job self, asook sy drie vriende, Elifas, Bildad en Sofar, padlangs aan te vat en om hulle te onderrig in die Here se wysheid. Met hulle godsdienstigheid en al, loop hulle God mis (34:7-11). Elihu is op sy beurt diep onder die indruk van God se heiligheid. Ook weet hy dat God regverdig is (34:12-30). Om God foutiewelik te beskuldig van onregverdigheid, is pure dwaasheid (35:1-16). God is groot, so groot dat ons nie eens ’n idee het wie Hy regtig is nie (36:26). Die Here se stem dreun oor die aarde as Hy in die natuur aan die woord kom. Die skepping wys gedurig vir ons hoe groot en sterk Hy is (37:1-13). Daarom moet Job stil word en luister. Job moet sy plek ken voor God. Hy moet besef hy is niks voor die Almagtige nie (37:14-19). Genadiglik mag hy ook weet dat God regverdig is. Hy verdruk niemand nie (37:20-24).

Elihu se vergete stem moet hier in ons eie dag gehoor word. Hy weet iets van God wat baie van ons vergeet het, naamlik dat God groot en heilig is. Hy is nie ons speelmaat nie. Hy is die Here, die Skepper van hemel en aarde. Voor Hom moet ons in heilige eerbied neerkniel. Met vrees moet die Here se Naam op ons lippe genoem word. Tog moet ons ook weet die Almagtige is naby en genadig. Hy red. Hy vergeef as ons berouvol voor Hom kom staan. Hy gee om, maar dan moet ons nooit dink dat ons wys is in ons eie oë nie (Jo 39:24). Ware wysheid is om eerbied vir God te hê. Raak asseblief stil saam met Job en leer hierdie lewensveranderende lesse by Elihu.


bottom of page