ʼn Sonneblom vir Coligny
top of page

ʼn Sonneblom vir Coligny


Voor 20 April 2017 het min mense van Coligny in Noord-Wes geweet. Sedertdien het dié klein dorpie bekend geraak vir al die verkeerde redes.

Op die gewraakte datum is Matlhomola Moshoeu op ʼn plaas buite Coligny oorlede en Pieter Doorewaard en Philip Schutte staan tereg op die moord. Die dood van die tienerseun het ʼn reeks skokkende gebeure aan die gang gesit. News24 het ʼn dokumentêr en artikel wat die moeite werd is om met ʼn objektiewe oog te kyk en te lees, oor die gevolge gepubliseer.

Dit is nie die doel van my skrywe om die drie kante van die saak te stel en te gis oor wie reg of verkeerd is en wat nou eintlik gebeur het nie. Dit is, tot my groot verligting, die taak van die regter.

ʼn Sekere aspek van die saak het egter in my kop bly vassteek: Matlhomola het blykbaar sonneblomme gesteel om die knaende honger met die sade te stil.

Hierdie spesifieke bewering neem my gedagtes na die verhaal van Rut.

Rut, ʼn arm weduwee, het volgens die “armreg” koringare opgetel op die lande van boere wat besig was om te oes.

Die “armreg” word in Levitikus 19:9 tot 10 beskryf en is ʼn duidelike Godsopdrag. Die woorde word in hoofstuk 23:22 herhaal: “Wanneer julle julle lande oes, moet julle nie die wenakkers afoes of die are wat bly lê, optel nie. Julle moet dit los vir die armes en die vreemdelinge.”

Die Here is so ernstig hieroor dat die opdrag selfs vir ʼn dérde maal in Deuteronomium 24 beklemtoon word.

In Jesaja 58 word dit deur God selfs bo die vas gestel: “Is die vas wat Ek wil hê, nie dít nie: ... Is dit nie dat jy vir dié wat honger is, van jou brood gee nie, dat jy aan die armes en die dakloses ʼn blyplek gee nie, dat wanneer jy iemand sonder klere sien, jy vir hom klere gee nie, dat jy jou medemens nie aan sy lot oorlaat nie?”

Ek wil vandag ʼn harige, ongemaklike vraag vra:

Laat ons vandag steeds die koringare vir die vreemdelinge, weduwees, weeskinders en armes op die land lê? Of het ons afgestomp geraak vir die opdrag? Beroep ons ons ook wat dit aanbetref op die feit dat ons nie meer onder die wet staan nie of glo ons dat hierdie opdrag steeds in 2018 geld?

Die antwoord is selfs hariger en ongemakliker as die vraag...

Na die opdrag in Jesaja 58 volg van die mooiste woorde in die ganse Bybel:

“Dan sal die lig vir jou deurbreek soos die rooidag, jy sal gou herstel. Hy wat jou red, sal voor jou uit gaan, die mag van die Here sal agter jou aankom.

“Dan sal jy roep, en die Here sal antwoord, jy sal om hulp roep, en Hy sal sê: Hier is Ek!

“As jy sorg dat mense nie meer by jou verdruk word nie, nie meer gedreig en vals beskuldig word nie, as jy jou wy aan dié wat honger het, as jy voorsien in die behoeftes van dié wat in nood is, sal die lig vir jou skyn wanneer dit donker is, sal wat vir jou nag is, word soos die helder middag.”


bottom of page