Hosea [resensie]
top of page

Hosea [resensie]


Die profeet Hosea in die Ou Testament se lewe word sy boodskap wanneer hy in opdrag van die Here met ‘n vrou trou wat by meer as een geleentheid ontrou aan hom is, en dalk selfs kinders in die lewe bring wat sy by ander mans gewek het. Sy woorde is ‘n treffende getuienis van ‘n man se liefde vir sy vrou maar ook sy worsteling met haar ontrouheid, as ‘n lewende bewys van God se liefde vir mense wat Hom telkemale teleur stel.

In dié Bybelstudieboek, deel van die gewilde ‘Ontdek & beleef Bybelstudie’ van CUM, ondersoek die skrywer in sestien studies die lewe en werk van die profeet. Johan het baie ervaring as skrywer; met meer as ‘n honderd boeke wat hy gepubliseer het, is hy ‘n huishoudelilke naam by ingeligte Christene. En hier stel hy weer eens nie teleur nie. Sy insig in die persoonlike lewe van Hosea asook die historiese konteks van die eerste lesers ontsluit die woorde van die boek en onderstreep die waarde daarvan vir eietydse Christene.

Hosea leef in die kritieke tyd waarin die Noordelike Ryk die Assiriese beleg beleef wat in 722 daartoe lei dat die volk in ballingskap weggevoer word, ‘n ballingskap wat die volk se finale vernietiging tot gevolg het. Binne twee of drie geslagte bestaan daar nie meer mense wat hulleself as Israeliete identifiseer nie. Slegs die Suidelike Ryk oorleef omdat die Assiriërs hulle nie ook wegvoer nie.

Hosea se boodskap is gerig tot koning Jerobeam II en die mense van die Noordelike Ryk. Dit is ‘n dringende boodskap omdat die volk op hulle laaste bene staan.

Hosea rig sy woorde in ‘n situasie van morele verval en afgodediens asook verbroedering met heidense volke en beïnvloeding deur vreemde gebruike. Talle Israeliete besef die erns van hulle situasie en poog om hulp by ander volke te soek wat hulle teen die Assiriërs kan beskerm. Maar niemand meen dat dit nuttig gaan wees om by Israel se God te gaan hulp soek nie.

Hosea beleef aan sy eie lyf die teleurgestelde liefde van ‘n God wat deur sy eie mense misken word. Maar sy boodskap word ook geminag en hy beleef verwerping van sy eie mense.

Die studieboek is geskik vir individuele Bybelstudie maar in besonder ook vir kleingroepe wat erns met die Bybel maak. ‘n Welkome toevoeging tot CUM se lys van nuttige en waardevolle hulpmiddels vir Bybelstudie!


bottom of page