Die grootste komplement wat die hemel jou kan bewys is…
top of page

Die grootste komplement wat die hemel jou kan bewys is…


Weet jy wat is die heel grootste komplement wat God ooit aan jou kan bewys? Wel, dit is wanneer Hy na jou luister. Mens noem dit gebed. Die grootste komplement van die hemel aan jou is wanneer God stil is sodat Hy jou mooi kan uithoor. Om opreg met Hom te praat, is om sy aandag te trek. Altyd! Om in Jesus se Naam aan sy hemelse deure te klop, is om te weet daardie deur sal oopgemaak word. Jy sal binnegenooi word as ’n kind en ’n eregas van die Hemelse Vader. Daar is altyd plek aan God se voete vir sy kinders. Onthou, die hemel se meeluisterende stilte wanneer jy met eerbied hier aanklop is nie ’n afwesige stilte nie. Of ’n ignorerende stilte nie. Of ’n besetkode omdat God net dalk te besig is om na jou te luister nie. Nee, God se luisterende stilte is altyd ’n goedkeurende stilte. Dit is God wat stil-tevrede is met jou as een van sy geliefdes, soos wat Sefanja 3:17 so mooi hieroor skryf.

God wil jou graag uithoor. Hy wil luister na wat jy vir Hom wil sê; daarom gee Hy opreg aandag aan jou. Hy luister veral na die taal van jou hart. Hy kyk wat jou motiewe is. Jou lofroepe wanneer jy sy Naam prys gaan nie ongehoord of ongesiens verby nie. Die Heer hoor ook jou sugte, jou benoudheid, jou ernstige pleitroepe. Altyd is die Heer bereid om te luister na jou as een van sy geliefdes. Dikwels verkies Hy stilte as jy met ’n opregte hart in sy teenwoordigheid verskyn. Hy wil na jou luister. Moenie sy stilte verkeerd lees nie. Moenie dit as ’n doodse stilte verstaan nie. God het jou keer op keer aangehoor. Hy het geluister. Psalm 63 noem Hom tereg die Hoorder van gebed. Bid! Klop! Pleit! Volhard hierin. Want vir elkeen wat aan die hemelse deure aanklop in Jesus se Naam wag daar ’n verrassing- die deur sal oopgemaak word. God Self sal jou ontvang.


bottom of page