top of page

Jesus Christus aan ʼn paal opgehang


“Wanneer iemand tereggestel word vir ’n oortreding wat die doodstraf verdien, en jy hang hom aan ’n paal op, mag sy lyk nie die nag daaraan bly hang nie. Jy moet hom dieselfde dag nog begrawe, want wie opgehang word, is deur God vervloek.”

Daar hang die Christus: Arms wyd oopgestrek en vasgespyker aan die dwarsbalk. Verneder en vol pyn. Vervloek. Mensalleen. Godverlate. Dors. In asemnood.

Eers gegesel en geslaan, met sy hande aan ’n houtstomp vasgeboei, gestroop van glorie en menswaardigheid. Die stukkies been in die rugsweep ruk die vel oop en sny diep deur die spierweefsel teen die skelet. Later word die dorings op sy kop gedruk – geen vetlaag om die senuwee en aartjies teen die brandende skerp te beskerm nie. Geen genade.

Hy strompel langs die Via Dolorosa op die pad na Kopbeenplek – die eerste spyker gaan binne minute die hout deur bloed kraak, en Hy wéét dit.

Drie wreedaards gooi Hom ru teen die dwarsbalk vas. Een sit op sy bors. Een hou sy bene vas. En een swaai die hamer. Twee lig die dwarsbalk oor die vertikale een terwyl ’n ander sy bene lig en nog een staan nader met die voetspyker. Hulle is geharde Romeinse soldate, ongevoelig vir die stukkende rug en die verwonde skedel, die spykers in die handpalms en die vernielde lyf. Ook onbewus van die profesie en die merkwaardigheid van die geskiedkundige oomblik. Doof vir die kreun en verdoeselde snik.

Die geweld van die kruisiging maak my mal en die woorde in Deuteronomium 21 brand magteloos-rooi onder my kraag: Jesus Christus is aan ʼn paal opgehang, deur God vervloek.

Ek kan nie aan die kruis dink sonder dat ’n magtelose gevoel van waardering en oneindige dankbaarheid en verligting my beetpak nie.

Twee millennia later baai ek immers steeds in die glorielig van die opstanding…


bottom of page