top of page
  • deur Stephan Joubert

Ons is nie slawe van ongesonde begeertes nie


Intimiteit is een van God se gawes aan ons elkeen. Intimiteit tussen huweliksgenote groei uit respek, vertroue, kommunikasie en ’n gesonde seksualiteit. Van laasgenoemde gepraat - die virus van pornografiese verslawing is ’n groot bedreiging vir enige vorm van gesonde intimiteit. Dit verlaag mense tot blote objekte van seksuele begeerte. Seksualiteit sonder grense, met as enigste doel onmiddellike behoeftebevrediging, is self-vernietigend. Dit verander mense in slagoffers van hulle eie vernietigende begeertes. God het ons vry gemaak, maar sy vryheid is nooit sonder gesonde grense nie. In gehoorsaamheid aan sy wil en binne die grense van sy Woord is ons regtig vry. Binne hierdie veilige bane gedy liefde vir God en respek vir mekaar as handewerk van God. Ons identiteit is genadiglik nooit eksklusief geleë in ons seksualiteit nie. Dit verduidelik Jesus padlangs in Matteus 19 as Hy sê het dat daar sommige is wat ter wille van die koninkryk van God kies om nie te trou nie. Ongetroudes wat vry is in die Here is ewe gelukkig en ewe volledig beelddraers van God as getroudes. Ons almal identiteit setel in Christus. In Hom vind ons ’n intieme verhouding met God, asook intimiteit in ons huwelik, en gesonde intimiteit in al ons vriendskappe.


bottom of page