top of page
Writer's pictureLiezel Lüneburg

Lyding: Aktueel, universeel en kontinu


Ons familie is die afgelope 2 weke gekonfronteer deur ʼn ondenkbare krisis waaroor ons glad nie beheer het nie.

Dit het my oor lyding laat filosofeer – dit blý ʼn aktuele tema; ons sal dit immers nie in hierdie lewe vryspring nie.

Hoekom word ons deur lyding getoets? Waar staan God in ons lyding? Waarom voel dit of smeekgebede nie beantwoord word nie – selfs al bid ons met geloof en oortuiging?

Ek kon nie op ʼn enkele een van hierdie vrae ʼn menslik-aanvaarbare antwoord vind nie. Wat ek wel gevind het, is in seker opsigte tóg veel beter.

Aan die begin van 2018 het ek Cry, The Beloved Country afgestof en weer gelees. Ek was vir die soveelste maal verstom oor Alan Paton se begrip en wysheid. Op een plek skryf hy:

“I have never thought that a Christian would be free of suffering, umfundisi. For our Lord suffered. And I come to believe that He suffered, not to save us from suffering, but to teach us how to bear suffering. For He knew that there is no life without suffering.”

Hierdie woorde word in Where is God when it hurts?, ʼn aangrypende boek deur Philip Yancey, bevestig:

“The fact that Jesus came to earth where he suffered and died does not remove pain from our lives. But it does show that God did not sit idly by and watch us suffer in isolation. He became one of us. Thus, in Jesus, God gives us an up-close and personal look at his response to human suffering. All our questions about God and suffering should, in fact, be filtered through what we know about Jesus.”

My troos lê in die wete dat Jesus Christus, al is Hy God, in ʼn posisie van meelewende en ondersteunende empatie tot ons lyding staan. Baie eeue voor sy koms het Jesaja reeds oor Hom geskryf: “Hy was verag en deur die mense verstoot, ʼn man van lyding wat pyn geken het, iemand vir wie die mense die gesig wegdraai.”

Die beste voorbeeld van hoe Jesus op pyn gereageer het, word uitgebeeld in sy optrede in die 24 ure voor sy dood:

Hy het drie male in trane en terwyl sy sweet bloed korrel, gesmeek dat sy eie Vader die dreigende lyding moet wegneem. Tog het Hy steeds gebid: “Moet nogtans nie doen soos Ek wil nie, maar soos U wil,” sonder om ultimatums te stel.

Hy het ons ook kom leer om met vergewensgesindheid en liefde teenoor ons folteraars te reageer. En met aanvaarding dat die Vader op die ou einde alles ten goede laat meewerk vir dié wat Hom liefhet. Jesus het besef dat die wêreld en sy rol daarin oor meer gaan as net Homself en sy eie behoeftes.

Om te ly, is nie maklik nie, maar daar is troos in Jesus Christus.

My gebed is dat elkeen wat bitterlik ly op ʼn punt sal kom waar God se woorde in 2 Korintiërs 12 sin maak en troos bring: “My genade is vir jou genoeg. My krag kom juis tot volle werking wanneer jy swak is.”


bottom of page