top of page
Writer's pictureLiezel Lüneburg

Trane vir die onopgeëiste liggame van Gauteng


As die lewe druk en my emosioneel en fisiek teen die grond vaspen, soek ek antwoorde in die Bybel en gebed. Ek stap die labirint in ons tuin en bid al in die rondte, al in die rondte totdat die Gees weer rustigheid bring. Dikwels ervaar ek dan ʼn Eureka-oomblik en kry perspektief.

Nie hierdie keer nie.

Deur die loop van die naweek het ek ʼn artikel deur ʼn ondersoekende joernalis gelees wat intense gevoelens van hartseer en totale hulpeloosheid oor my laat toesak het. Dit is nie ʼn positiewe plek om te wees nie – dit steel vreugde, tap energie en bring angstigheid.

Sarah Wild skryf in Mail & Guardian oor die onopgeëiste liggame wat jaarliks in Gautengse geregtelik-geneeskundige fasiliteite ophoop: “Each year, between 1 300 and 1 600 people in Gauteng are added to the already long list of South Africa’s unidentified dead, at a rate of three people per day. And that is just one province.”

Die lyke lê vir ʼn tyd lank in oorvol yskaste en ontbind waarna die liggame, wanneer die gesondheidsrisiko te groot raak, in ongemerkte grafte saam met twee ander onopgeëistes begrawe word.

My hartseer strek veel verder as die mens wat nou identiteitloos, stom, gesigloos en vergete in ʼn yskas lê.

Ek voel die vrees van die families wat angstig op nuus van ʼn geliefde wag: ʼn Man, vrou, kind het vroeg een oggend twee maande gelede van Hammanskraal af in ʼn taxi Johannesburg toe gery om werk te soek. Hulle weet nie dat die taxi in ʼn massiewe ongeluk aan die brand geslaan en dat die lyke onherkenbaar saam met identiteitsdokumente verkool het nie. Hulle weet nie eens watter taxi die persoon geneem het nie.

Ek huil oor armoede-geteisterde families dieper in Afrika wat onwetend glo dat ʼn gesinslid in Suid-Afrika geluk gevind het.

Ek voel die moedeloosheid en lae moraal van die SAPS-lede wat ʼn naam by ʼn liggaam moet pas. Ons polisiemag het te min opgeleide personeel en hulpbronne en lede is oorwerk en onderbetaal; die misdaadsyfers is hemelhoog.

Ek voel die wanhoop van die personeel wat landswyd in geregtelik-geneeskundige fasiliteite in ʼn hoë-gesondheidsrisiko-omgewing werk. Hillbrow alleen ontvang elke Maandagoggend tussen 30 en 40 liggame wat geregterlik ondersoek moet word.

Ek ween omdat ek magteloos voel.

Wat moet ek met hierdie inligting doen? Wat op aarde?

Wat bly oor as ek reeds vir die “regte” politieke party gestem het, reeds petisies onderteken het, reeds my misnoeë tot vervelens toe uitgespreek het, reeds die tersaaklike organisasies ondersteun?

Nét gebed:

“Die Gees staan ons ook in ons swakheid by: ons weet nie wat en hoe ons behoort te bid nie, maar die Gees self pleit vir ons met versugtinge wat nie met woorde gesê word nie.”

Deesdae bid ek dikwels sonder woorde...


bottom of page