Hier volg die regte kleredrag regulasies
top of page

Hier volg die regte kleredrag regulasies


In my kinderdae moes ons spesiale kerkklere aantrek as ons Sondae kerktoe gegaan het. Ons is geleer jy trek jou beste aan as jy na die Here toe gaan. Maar daar’s ’n denkfout met hierdie argument. Ons gaan mos nie na God toe asof Hy in ’n kerkgebou bly nie. God is nie meer tasbaar aanwesig by die kerkgebou as wat Hy in die res van ons lewe is nie. As Persoon is Hy ewe veel orals teenwoordig. Ons “ontmoet” Hom nie net op Sondae daar nie; Hy ontmoet ons elke dag daar waar onsself is in Sy volheid. Vervolgens is die vraag nie wat in ons eie oë “gepaste kleredrag” sou wees vir ons lewe in God se teenwoordigheid nie, maar wat eerder vir God gepas sou wees. Kom ons vat vir Jesus as voorbeeld. Onthou jy dat Hy na ons toe gekom het sonder enige “grênd” klere. Paulus vertel met name in Filippense 2 dat Jesus in die gestalte van ’n slaaf hier tussen ons was. Met ander woorde, Jesus het met werksklere aarde toe gekom, nie met “kerkklere” nie. Hy het gekom om te dien, te werk en te red. Sy praktiese reddingsklere het Hom in staat gestel om op die rommelhope van die lewe rond te loop en om tussen sondaars tuis te wees. Geen wonder dat die godsdienstige elite Jesus nooit as messias herken het nie en Hom uiteindelik aan ’n kruis vasgekap het.

In Kolossense 3:12-17 skryf Paulus ook oor die regte klere wat navolgers van Jesus nou moet aantrek. Met name gebruik hy in vers 10 en 12 ‘n Griekse werkwoord wat letterlik beteken om klere aan te trek. Dit doen hy nadat hy duidelik in vers 5-11 gesê het watter “klere” ons alles moet uittrek. Ongepaste klere volgens Paulus sluit dinge in soos woede, weerwraak, vuil taal, kwaadpratery en leuens. Sulke “klere” hoort glad nie in Christene se klerekas nie. Dit was deel van ons ou natuur en van ons vorige bestaan. Maar nou moet ons onsself beklee met die lewe van ons nuwe menswees in Christus, soos wat Paulus in vers 10 skryf. Nou leef, dink en doen ons anders. Nou trek ons vers 12-17 se nuwe kleredrag elke dag aan. Hierdie “klere” sluit in medelye, nederigheid, goedheid, geduld, vergifnis en liefde. Dit is die gepaste kleredrag vir elke navolger van Christus. Kolossense 3 is die amptelike kleredrag regulasies vir ons gelowiges. Hoe hartseer dat ons dit misgelees het en vir veels te lank net gefokus het op mense se uiterlike voorkoms. Hiervan gepraat, Jakobus 2 waarsku ons dat as ons mense op hulle uiterlike voorkoms en kleredrag beoordeel, dan doen ons sonde. Kom ons trek sulke veroordelende klere uit. Kom ons trek reg aan vir die Here en leef soos wat Hy van ons vra.


bottom of page