top of page
Writer's pictureRoedolf Botha

Twyfel is verstaanbaar, maar geloof inspireer!


“I don’t wanna lose heart! I wanna belíéve… as he does!”

So sê Robert the Bruce van William Wallace in die fliek Braveheart. In die storie was Robert ‘n Skotse edelman wat al gewoond geraak het aan die gemak en politiek van sy posisie. Hy was veronderstel om later die leier van Skotland te word. William Wallace aan die ander kant, was ‘n vryheidsvegter met ‘n baie eenvoudiger agtergrond. Alhoewel Robert geensins ‘n slegte mens was nie, was hy gewoond daaraan om gemotiveer te word deur die politiek van die dag, en wat vir hom en sy spesifieke stam die meeste voordeel sou trek uit die situasie met Engeland.

Hy sien toe egter op ‘n dag vir Wallace veg teen die Engelse oormag. En wat hy gesien het het hom verander. Wallace het baklei met die ongekende passie, durf en dapperheid wat besiel is deur algehele geloof en oortuiging vir geregtigheid. Robert het besef dat alhoewel hy self ‘n goeie mens is, dit hom geheel en al ontbreek het aan Wallace se onwrikbare geloof en oortuiging. In sy wêreld was dinge altyd versigtig beredeneer en mense is fyn dopgehou omdat vertroue ontbreek het onder die edelmanne, en elkeen net die beste vir homself wou inpalm ten koste van die res.

Alhoewel Wallace eenvoudig was was hy egter geen idioot nie. Hy was geskool in verskeie prominente tale van daardie tyd. Hy het dikwels gereis en het baie meer van die wêreld te siene gehad as meeste van sy Skotse landgenote. Hy was dus ‘n wêreldburger en denker en geensins naïef oor die lewe nie. Hy het sy intelligensie en skerp verstand gebruik in diens van sy absolute geloof en oortuiging dat Skotland vry moet wees. En daarvoor het hy sy lewe gegee en sy volksgenote so geïnspireer om te veg dat Skotland uiteindelik later haar vryheid verower het.

So werk dit ook met geloof in Jesus. Mense met geloof inspireer ander mense! Dit bring ander mense in beweging en dit bring hoop. Ek praat nie van ‘n naïewe geloof van iemand wat alles insluk van wat die volgende beste “profeet” nou weer te sê het nie. Nee, ons praat hier van ‘n diepgewortelde goed deurdagte oortuiging dat Jesus op die troon sit, dat Hy die Koning van die wêreld is ondanks al die terugslae van die lewe. Dis onwrikbare oortuiging dat ons ons lewens agter Hom aan kan wegleef vir ander!

Dit beteken nie dat daar geen plek vir twyfel mag bestaan nie. Daaroor is die Bybel baie duidelik (Matteus 11: 2-3). Denkende gelowiges veral, sal tye van twyfel beleef, selfs erge twyfel. Twyfel is inderdaad deel van ‘n Jesus-volgeling se reis saam met Hom.

Die Bybel maak egter baie ondubbelsinnige uitsprake oor twyfel wat ons ook ernstig moet neem: Langdurige twyfel is nie opbouend nie. Gedurige twyfel verlam ‘n mens se geestelike lewe en sosiale gewete. Twyfel is beslis geen deug van nederigheid – soos wat sommige mense dit laat klink – nie. Daaroor was Jesus baie duidelik (Matteus 11: 6). Geen gelowige behoort dus in ‘n permanente toestand van twyfel bly leef nie.

Twyfel is verstaanbaar. Dis egter geloof wat inspireer. Ons ken vandag die name van Josua en Kaleb omdat hulle geglo het. Ons ken nie die name van die tien verspieders wat sonder geloof was nie. Trouens, ons wil hulle nie eintlik onthou nie.

Jesus was besorg oor die stand van geloof van sy tyd: “Maar sal die Seun van die mens by sy koms nog geloof op aarde vind?” (Lukas 18:14).

Om hierdie rede moet ons dus ons geloof in Jesus voed, sonder om ander mense te veroordeel vir wie geloof nie maklik kom nie.

Miskien sal iemand dalk eendag oor jou geloof ook sê: “I wanna belíéve as he/she does!”


bottom of page