Goddelike oomblikke tussen skottelgoed
top of page

Goddelike oomblikke tussen skottelgoed


In 2 Konings 5 lees ons van Naäman, die hoof van die Arameërs se weermag, wat melaats geword het. Later is hy genees deur die toedoen van Elisa, die man van God. Tog was die eerste belangrike skakel tot sy genesing ’n dogtertjie uit Israel. Op ’n strooptog is hierdie kindjie ontvoer. Sy het toe in Naäman se vrou se diens beland.

Toe hierdie dogtertjie hoor van Naäman se siekte, het sy vir me. Naäman gesê: “Sê vir die generaal hy moet Samaria toe gaan. Daar’s die man van God wat hom sal genees.” Net dit! Nee, sy het nie vir Naäman gepreek nie... Of ’n lang getuienis oor haar geloof afgesteek nie. Sy was ’n kortpad-padwyser na God toe. Toe haar Goddelike oomblik onverwags daar in die kombuis aanbreek om ’n verskil in iemand se lewe te maak, was hierdie paar woorde oorgenoeg!

Wat verander doodgewone oomblikke in Goddelike momente? Wat maak dat ’n generaal ’n kinderslaaf uit ’n vyandige volk ernstig opvat? Wel, haar lewe het in HOOFLETTERS getuig sy loop op die Here se pad. Ver van haar ouerhuis af het hierdie naamlose kind styf aan God vasgehou. Al was haar lewenskeuses op daardie harde kombuisvloere min, het sy haar slawewerk vir die Here gedoen. Dit het elke vloerwas-dag verander in God se spesiale moment. G’n wonder nie dat Naäman na haar geluister het. Twee goeie sinnetjies op die regte Goddelike oomblik het haar vir altyd op die bladsye van die Bybel ingeskryf. Nadat Naäman genees is, het hy bely daar’s geen ander God nie behalwe die God van Israel (2 Kon 5:15). Sy lewe het verander, asook sy eie mense s’n. Hulle het gesien wat God in hulle generaal se lewe kan doen!

Die wederkoms sal uitwys hoedat ons elke Goddelike moment aangegryp het... of deur ons vingers laat val het! Nie eens skottelgoed-was of werk-toe-ry is sinnelose oomblikke as ons voltyds aan diens vir Christus is nie.


bottom of page