Geloof gaan nie van jou ’n beter mens maak nie
top of page

Geloof gaan nie van jou ’n beter mens maak nie


Geloof is nie ’n selfverbetering program nie. Christus se doel is nie bloot net om van jou ’n beter mens te maak nie. Dit is selfhelp programme se terrein. O ja, godsdiens s’n ook. Formele godsdiens se doel is om jou deel van ’n sisteem te maak wat ’n duidelike onderskeid tref tussen “ons” as vromes en “hulle” as sondaars. Formele godsdiens verval spoedig in vaste reëls en regulasies waar mense gedurig gemeet word aan hulle gehoorsaamheid aan uiterlike voorskrifte, wette en tradisies. Geloof in Jesus as Heer gebeur heeltemal anders. Dit gebeur verhoudingsmatig. Geloof laat jou anders leef vanuit jou lewende verhouding met Christus. Geloof in Hom maak jou nooit werklikheidsvreemd of veroordelend nie. Geloof in Hom laat jou wel afstand doen van jou selfsugtige maniere van leef. Jesus se roete is dié van nederigheid; opoffering en diens. Sy roete vra om die aflê van alle selfsugtige begeertes wat jouself gedurig op die voorgrond plaas.

Geloof help weinig as jy bloot net wil beter voel oor jouself. Of as jy so nou en dan kits-hemelse hulp benodig. Totdat jy nie afstand doen van jou selfsugtige leefstyl en jou goor begeertes nie gaan jy teleurgesteld wees met Christus. Geloof wat nie lei tot selflose navolging van Hom nie, is godsdienstige oëverblindery. Jesus het gekom om jou lewe ryk te maak met sy nabyheid en vreugde. Jesus wil jou nie al hoe beter maak in jouself nie, Hy wil jou al hoe meer vorm na die beeld van God. Hy wil sy eie handtekening op jou lewe afdruk. Hy wil jou mooi, stylvol en voluit vir God laat leef. Volg Jesus op sy terme, dan is die hemele bokant jou oop.


bottom of page