The first few years of marriage [resensie]
top of page

The first few years of marriage [resensie]


Jim Burns & Doug Fields. The first few years of marriage: 8 ways to strengthen your “I do”. David Cook. 2017

Vir meeste mense wat die eerste keer trou, is dit ‘n opwindende ervaring. Baie duidelik bly dit nie vir almal opwindend nie; ‘n beduidende aantal huwelike loop binne die eerste jaar of drie reeds op die rotse. En wanneer ‘n mens kyk hoeveel mense van mekaar verskil, en hoe verskillend die wêreld soms is waaruit hulle kom en watter verskillende opvoedings en waardestelsels hulle verteenwoordig, verbaas dit jou nie.

Hoe kan ‘n mens jou hierop voorberei? Indien jy ‘n motor wil bestuur of met ‘n geweer wil skiet, moet jy eers opleiding kry. En jy moet getoets word om seker te maak dat jy die belangrikste beginsels en vaardighede onder die knie het. Wanneer jy trou, is opleiding nie verpligtend nie. Indien jy slim is, sal jy egter besef hoe noodsaaklik dit is dat jy so goed toegerus moontlik in die huwelik gaan.

En dié boek kan vir jou van groot nut wees. Jy leer eers hoe belangrik dit is dat jy die regte fondament kies vir julle intieme verhouding. Vir ‘n huwelik om ‘n leeftyd te hou, is dit krities noodsaaklik dat die fondasie waarop dit staan goed begrond is.

Verder moet jy prakties aanleer hoe om romanse in jou huwelik in te bou sodat julle verhouding nie vervlak tot ‘n blote stuk roetine nie. Hoe kan jy julle verhouding lig en vrolik maak? Wat doen jy wanneer die stres waarmee die lewe julle konfronteer julle verhouding wil ondermyn? Of as een of albei van julle so besig raak dat ‘n mens later nie meer energie of moed oor het vir die eise wat ‘n huweliksverhouding aan jou stel nie? Hoe hanteer ‘n mens verskille, tussen jou as man en vrou maar ook in die wyse waarop julle besluite neem en geld hanteer en kinders grootmaak? Hoe kan ‘n mens verby die negatiewe wat noodsaaklik daar is, kom en op die positiewe in die verhouding konsentreer? Hoe hanteer ‘n mens konflik, en dan veral die emosioneel-gelade konflik met die persoon saam met wie jy slaap? En wanneer dit by seks kom, hoe kan julle verskille daaroor te bowe kom? Hoe oorleef ‘n mens se huwelik die koms van ‘n kleinding wat tonne van jou tyd en aandag verg, en in die middel van die nag siek word? Hoe beplan ‘n mens ‘n toekoms saam, sodat julle doelgerig die dag van môre tegemoet kan gaan?

Gegrond op Bybelse beginsels bied dié twee skrywers vir jou praktiese raad aan die hand van voorbeelde wat op die werklikheid van mense se lewens gebaseer is. Die boek lees baie maklik en is ook so gedruk dat jy gemaklik dit kan gebruik om as egpaar saam te lees en te bespreek. Daarvoor sluit elke hoofstuk dan ook met nuttige vrae af.

Lei jouself op, aan die hand van die Bybel en dié boek, vir die eise wat die huwelik aan jou stel. En word deel van die statistiek van mense wat dit bedoel as hulle belowe om lewenslank aan mekaar getrou te bly!


bottom of page