Innerlike vrede wanneer dit woes gaan
top of page

Innerlike vrede wanneer dit woes gaan


In 1873 vertrek Horatio Spafford, ‘n welgestelde prokureur in Chicago, se gesin met ‘n bootreis na Europa vir ‘n familie vakansie. Hy sou later by hulle aansluit nadat hy besigheid afgehandel het. Op pad Europa toe sink die passasierskip en Horatio se 4 dogters verdrink. Sy vrou, Anna, word bewusteloos uit die water gered. Ten spyte van hierdie ongelooflike hartseer skryf hy op pad om sy vrou te gaan bystaan hierdie aangrypende lied; "It Is Well with My Soul"

“When peace, like a river, attendeth my way, When sorrows like sea billows roll; Whatever my lot, Thou has taught me to say, It is well, it is well, with my soul.

Refrain: It is well, with my soul, It is well, it is well, with my soul.”

Wanneer ek hierdie hartseer verhaal lees en hoor van sommige mense se reuse-swaar en -seerkry wonder ek onvermydelik hoe hulle weer die lewe kan aanpak? My daaglikse frustrasies en bekommernisse van motors wat breek en kollegas wat my in die rug steek lyk dan onbenullig. Horatio Spafford se lewe het getuig van ‘n naby verhouding met die Here en ‘n volle vertroue in Hom. Dit het hom ‘n kalmte en vrede, wat nie menslik gesproke verklaar kan word nie, gegee ten spyte van die hartseer oor sy dogters. Dit het hom in staat gestel om sy vrou te vertroos en sy lewe te herbou.

Ek het dalk nie soveel swaarkry as Horatio en ander nie, maar wanneer die frustrasies en storms van die lewe kom – wat onvermydelik sal gebeur – gaan ek dit net trotseer as ek naby God leef. As ek Sy vrede my eie maak. Die bonatuurlike vrede van Filippense 4:7 wat alle verstand te bowe gaan en direk uit Sy hand kom. Dit is ‘n volle vertroue in God, ‘n bonatuurlike kalmte, ‘n rustigheid, n vaste wete dat Hy in beheer is.

Hierdie vrede verkry ek wanneer ek my gedagtes en hart op Hom en Sy liefdevolle teenwoordigheid rig. Dit is gebaseer daarop dat die Gees van God in my woon, dat Sy teenwoordigheid en vrede volkome en voldoende vir my is om enige storm te kan hanteer.

Dan kan ek verstaan hoe Paulus en Silas in die tronk liedere sing ten spyte van hul lyfstraf en hoe Dawid in Psalm 3:5 sê : “As ek gaan lê, slaap ek goed; ek word ook weer wakker, want die Here sorg vir my” ten spyte daarvan dat sy vyande hom omsingel het.


bottom of page