End-times super trends [resensie]
top of page

End-times super trends [resensie]


Die skrywer tipeer ons dag as die era van terrorisme, gewelddadige misdaad, gebrek aan vertroue in die vermoë van wetstoepassingsagente om ons te beskerm, ‘n gevoel van viktimisasie en magteloosheid by die burgery, klimaatsverandering en ander klimaatsuitdagings, kernbewapening en spanning tussen die Weste en Rusland, Iran en Noord-Korea en vrees by mense.

Hieruit identifiseer hy sekere tendense wat die era waarin ons leef verskillend maak van vorige tye. Hy dink aan morele agteruitgang, toleransie vir almal en alles, agteruitgang van vryheid om godsdiens te beoefen, vervolging van Christene op ‘n groot skaal, die verval van die huwelik en gesinseenheid in ‘n seksueel disfunksionele samelewing, e-kranksinnigheid en die toename in kuberaanvalle en kuberoorloë, groeiende kern- en elektromagnetiese oorlogsgevaar, Israel en die Midde-Ooste as ‘n bom wat wag om te ontplof, die Moslembedreiging, die herbou van die tempel in Jerusalem, ‘n kontantlose samelewing en globalisering.

Hy beskou dié tendense as eindtydaanduiders. Dit toon vir hom aan dat gelowiges nou in die eindtyd leef, wat hulle moet aanmoedig om gereed te wees vir die koms van die Here. Hy beveg wat hy noem die eindtyd-agnostisisme waar talle gelowiges nie meer glo dat ons in die eindtye leef nie omdat dit al vir eeue verkondig word sonder dat die einde aanbreek. Hy meen ook dat die kerk sy boodskap duideliker stel wanneer ons besef dat ons aan die einde van tyd leef. En hy meen hy kan aandui wanneer die wegraping gaan wees op grond van sy waarnemings van wat in ons wêreld gebeur.

Die belangrikste gevaar, meen die skrywer, is die afvalligheid wat die kerk en talle Christene se lewe kenmerk. Hy vertel van Satan wat sy eie kerk het met sy eie predikante en eie stelsel van teologie, gebaseer op wat die Nuwe Testament leer. Sy predikante verkondig ook ‘n evangelie van valse Christusse en vals profete berei vir hulle die weg voor.

In ‘n laaste hoofstuk stel hy dan die vraag: hoe behoort ons in sulke tye te leef? Moet ons gedryf word deur vrees en bekommernis oor die toekoms? In plaas daarvan meen hy behoort Christene ongesonde denke te vermy, altyd te bid en lief te hê, nie bekommerd te raak nie maar regverdig te lewe, nie probeer om datums vir die eindtydgebeure te stel nie maar die oog op die grootheid van God te hou.

Hier het jy ‘n perspektief op die eindtyd wat die Bybel op ‘n spesifieke wyse lees. Ek is seker daar is heelwat lesers wat in die onderwerp belang stel en dié boek nuttig sal vind.


bottom of page