Nuwe jaar – nuwe klerekas
top of page

Nuwe jaar – nuwe klerekas


Die manne het nie altyd so ‘n groot probleem hiermee nie, maar die vroumense het dikwels ‘n probleem wanneer hulle moet aantrek om ‘n geleentheid te gaan bywoon. Wat om aan te trek?! As ek weet dat ek vooraf sorgvuldig beplan en aangekoop het, kan ek met vertroue my hand uitsteek na die regte uitrusting en seker wees dat ek reg aangetrek is vir die okkasie.

So kan elkeen van ons die nuwe jaar ingaan met ‘n klerekas vol gepaste klere, klere wat my hemelse Vader ten duurste moes aankoop: die belangrikste daarvan die wit kleed van geregtigheid wat deur die bleikmiddel van sy Seun se bloed gewas is.

Hy pak my rakke en hangspasie met goeie kwaliteit uitrustings vir elke okkasie:

krag, liefde en selfbeheersing, blydskap, vrede, geduld, vriendelikheid en nederigheid, om maar net ‘n paar te noem. Ek moet net elke oggend, en soms deur die loop van die dag, kies watter uitrusting om aan te trek. Ek kan tog nie met my plakkies die Stormsrivier Canyon aanpak nie. Net so min gaan ek nie met my japon en pantoffels by ‘n belangrike vergadering opdaag nie.

Ek moet in die eerste instansie kies om die nuwe Efesiërs 4:24 identiteit aan te trek, daardie nuwe self wat ‘n sterk familietrek het, my Vader se oë en hart het. God rus my toe met sy Gees sodat ek nooit verleë of ontoegerus hoef te wees nie. Ek kan wysheid hê in situasies waar ek dit mag nodig hê, selfbeheersing waar my bloed normaalweg sou kook, ek kan liefdevolle genade betoon teenoor ‘n moeilike gesinslid, en ek kan krag hê om daardie krisis by die werk die hoof te bied.

Die uitrustings is daar – ek is die een wat daagliks of soms meer dikwels moet kies om die gepaste uitrusting aan te trek.


bottom of page