top of page
deur Ashe Steenbok

Wat nou?


Volgens die destydse NG Sendingkerk-kerkorde, as ek reg onthou, het die weduwee van ‘n predikant 6 of 9 maande gratis verbly in die pastorie en dan moet sy en haar huisgesin uittrek. Ook darem kry sy ‘n pensioen van die kerk en ook die kinders mits hulle onder 21 jaar is. MAAR wat nou? Ons het nie ‘n huis van ons eie nie; waarnatoe sal ons gaan.

Gelukkig het my pa voorsiening gemaak en altyd gesê hys is meer werd dood as lewendig. Dis nie waar nie pa! Toe die polisse uitbetaal toe pak ons ons goed onmiddellik en my moeder koop ‘n huis. Ons wou nie langer in die pastorie vertoef nie, want my pa is nog nie eers 2 weke oorlede nie, daar’s alreeds ‘n dominee wat begin preek het. Lyk my die gemeente kon nie wag om aan te beweeg nie. Ja, die NG Sendingkerk of nou VG Kerk het altyd maar een predikant gehad. En ja, die gemeente werk moes seker aangaan, maar dit het so gou gevoel vir my. Dit was asof my pa alreeds vergete was vir die kerk. Vir die kerk wat hy jare homself gegee het.

Hou vas… is dit teologies korrek om so te dink? Baie van ons dink ons gee en werk vir die kerk, maar eintlik gee en werk ons mos vir die Here. As ‘n mens dink jy doen iets vir die kerk sal jy “dankies” daarvoor kry, maak jy maak jouself Kaaps-spreekwoordelik “laat”. Dit wat jy doen, doen jy vir die Here en vir niemand anders nie. Dit wat jy by die werk doen om “deadlines te meet” en vir jou kollega ‘n koppie koffie te maak, doen jy nie vir hom of haar nie, maar vir die Here. Paulus sê dit mos tereg dat alles wat ons doen moet ons doen asof ons dit vir die Here doen (Kol. 3:23). Mense sal nooit of baie selde dankbaarheid toon, maar die Here sal altyd jou arbeid onthou.

Ons trek vir die eerste keer in ons eie huis! Vandat ek my verstand het, het ons nog altyd in ‘n pastorie gebly. My broer doen ‘n snaakse ding; hy draai die radio se volume hoog en dans in die gang want die kerkraad kan nou niks meer sê nie. Dit is ons huis, ons eie huis.

Die lewe moet nou aangaan. Ons kerkjare is verby… Ons is nou maar net nog ‘n ou pastorie-gesin wie se pa/dominee gesterf het. My ma het baie seer, maar is baie sterk. Interessant genoeg… die koster van my pa se gemeente het ook afgetree en saam met ons getrek en bly agter in die woonstel by ons. My pa se beste pêl, wyle ds. Euclid Marks, kom elke maand kuier. Dankie kapelaan!!!!!!!


bottom of page