25 questions God asked [resensie]
top of page

25 questions God asked [resensie]


Mary Selzer. 25 questions God asked: Discover the answers that will change your life. Barbour. 2016

Die skrywer beskryf die Christen se lewe as ‘n avontuurlike reis na lewe in God, waar jy Hom leer ken en liefhet en Hy jou verander om die mens te word wat Hy bedoel het jy sal wees. En dié reis roep vrae by ‘n mens op want die reis eindig nie as jy op God se stem antwoord en jou lewe aan Hom oorgee nie. Trouens, die reis begin dan eers.

Dalk het die kerk meer klem daarop geplaas om die boodskap te verkondig, as om vrae te stel met die doel om te ontdek. Want vrae kan soos skerp toerusting in die hande van ‘n vakman wysheid en waarheid distilleer.

Die skrywer is ‘n professionele afrigter van Christenafrigters, en verstaan wat dit beteken dat die regte vrae tot besinning lei wat perspektiewe verander en paradigmas skuif. Afrigters wat hulle sout werd is, besef die belang dat spanlede nie geleer word hoe om iets te doen nie maar self ontdek hoe dit die beste deur daardie individuele persoon gedoen kan word. Daarom die klem op korrekte vrae wat op die regte tyd gestel word.

‘n Eerste vraag is: waar is die Here? Die vraag is belangrik want dit sal Christene leer om nuuskierig te wees oor waar die Here volgende gaan opduik, hoe Hy Homself in hierdie omstandighede gaan openbaar.

‘n Tweede vraag is: het jy gelet op Job? Job verloor alles. Sy vrou moedig hom aan om sy integriteit te versaak en God te vloek. Maar Job, en God, weet dat Job die nodige krag het om getrou aan die Here te bly, ongeag watter omstandighede oor hom spoel.

‘n Derde vraag is: as jy doen wat reg is, sal jy nie aanvaar word nie? Dit is natuurlik die Here se woorde aan Kain wie se offer nie aanvaar word nie. Kain se motiewe was nie reg nie en daarom is sy dade ook nie aanvaarbaar voor God nie, insluitend sy offer. En dit stel die vraag: hoe lyk ons motiewe!

Op dié wyse gebruik die skrywer vrae in die Bybel wat aan sekere kontekste gekoppel is om aansluiting te vind by die moderne wêreld van gelowiges.

‘n Interessante en uitdagende boek wat meer doen as vrae stel. Dit leer jou die kuns en belangrikheid om self vrae te stel. Om die lewe as ‘n ontdekkingsreis aan te pak en nuuskierig te raak oor wat gebeur en wat die onderlinge verband is.


bottom of page