Sacred marriage [resensie]
top of page

Sacred marriage [resensie]


Boeke oor die huwelik verskyn daar genoeg van. Hier het jy egter ‘n boek wat iets anders doen as jou vaardighede aanleer hoe om binne die intimiteit van die huwelik te oorleef. Dié boek stel vrae aan jou wat vir jou as gelowige ander perspektiewe gaan oopbreek. En indien jy daardie perspektiewe gaan implementeer, gaan dit ‘n verskuiwing in die paradigma maak waaruit jy leef, ook as getroude mens.

Dié boek het klassiek geraak in die klompie jare wat dit op die mark is. Baie mense het baat daarby gevind. Nou het die skrywer die boek korter gemaak alhoewel die essensie daarvan behou is, en terselfdertyd die boek meer toeganklik gemaak vir kleingroepe met vrae wat bespreek kan word, asook vrae vir egpare wat dit saam wil lees.

Vir die skrywer gaan dit nie in die eerste plek daarom dat jy ‘n beter huwelik kan bou nie. Sy standpunt is dat as jy getrou aan die Here in jou huwelik leef, in die manier waarop julle kommunikeer en van opinie verskil poog om te doen wat Christus van julle verlang, julle huwelik gaan help om julle verhouding met die Here te verdiep. En dit is wat vir hom die belangrikste is. Dat jy as’t ware eerste dinge eerste in jou huwelik stel, en doen.

Jou eerste roeping as Christen is nie om gelukkig te wees nie maar om heilig te word. Ek hoef nie te verduidelik dat ons samelewing die idee voorhou dat die huwelik bedoel is om jou gelukkig te maak nie. En omdat vele mense nie die vae begrip van ‘geluk’ beleef nie, skei hulle eerder en probeer ‘geluk’ iewers anders soek. Christen, jy is geroep om getrou aan die Here te leef. Om Hom met jou lewe en huwelik te dien. Wanneer jy dit doen, tree jy vanuit opofferende, dienende liefde op. En dan maak jy die huwelik werk, selfs al is jy met iemand getroud wat dit uitdagend maak. In alles poog jy om die Here te behaag. In die proses groei jou karakter sodat Christus in jou gestalte aanneem.

So ‘n huwelik leer jou waaruit ‘n verhouding met die Here bestaan. Dit leer jou wat respek behels. Jy leer bid. Dit openbaar aan jou sondige patrone wat gebreek moet word. Jy leer volhard, en vergewe, en wat dit beteken om ‘n slaaf van Christus te word. Die uitlewing van seksualiteit in die huwelik bied aan jou geestelike insigte en help jou karakter vorm. Dit maak jou bewus van die Here se teenwoordigheid. En jou huwelik ontwikkel jou roeping, sending en doel.

As jy dit wil laat gebeur, is dié boekie vir jou bedoel. Dit is ‘n kragtige uitdaging gerig aan die adres van elke Christen wat belang stel om met die lewe te doen wat die Here bedoel het.


bottom of page