Hier en nou en vir altyd
top of page

Hier en nou en vir altyd


Die “anderkant” interesseer ons almal een of ander tyd wat hier aan die duskant leef. Wanneer iemand naby aan ons sterf wil ons graag weet hoe dit sal wees aan die oorkant in die doodsvallei. Wel, die goeie nuus is dat Jesus dwarsdeur daardie einste doodsvallei gestap het en lewend anderkant uitgekom het. Die doderyk was hoegenaamd nie sterk genoeg om Hom gevange te hou nie. Jesus het die dood se bluf geroep. Die angel van die grootste vyand aan hierdie kant van die graf is uitgetrek. Jesus hou nou die sleutels van die dood en die doderyk stewig in sy eie hande vas, soos wat Hyself sê in Openbaring 1:17-18. Lewe wen altyd in sy teenwoordigheid, selfs ook al loop ons eie uurglas aan hierdie kant leeg. Hoop triomfeer op elke plek waar Jesus is. Hy oorstroom moedverloor se vlakte met nuwe lewe. Die seer en die swaar van hierdie lewe kan daarom ook nie die nuwe hoop in ons harte wat Jesus bring uitdoof nie. Ons leef hier en nou en vir altyd saam met Jesus. Ewige Lewe is om Hom nou reeds te ken as Heer.


bottom of page