Ek kyk uit vir jou
top of page

Ek kyk uit vir jou


Jesus leer my dat jy my naaste is. Hy leer my ook dat ek jou moet liefhê soos myself. My liefde vir God loop hand aan hand loop met my liefde vir jou (Matteus 22:38-39). Ek weet God se liefde is konkreet. Dis nie net lippetaal nie, maar nuwe verhoudings en nuwe dade. Omdat ek by die Here leer om nie op selfsugtige maniere net vir myself te leef nie, maar vir Hom en vir jou, beskerm ek graag jou rug. Spreuke 12:18 herinner my daaraan dat gevaarlike woorde soos messteke is. Daarom staan ek in die pad van goor woorde wat mense partykeer in jou rigting slinger. Ook doen ek my bes om te keer dat dwase jou naam deur die modder sleep. Jou integriteit maak regtig vir my saak; daarom beskerm ek jou rug. Ek hou net mooi niks daarvan as mense skinderstories oor jou versprei nie. Daarom briek ek enige agteraf praatjies oor jou wat my ore bereik.

Ek glo die beste van jou soos wat 1 Korintiërs 13:4-7 leer. Ek bevraagteken nie jou motiewe nie. Ek vergeef jou as jy droogmaak, of as jy my soms in die steek laat, want die Here se liefde maak dat ek gladnie meer so maklik boekhou van die kwaad soos vroeër nie. Wanneer jy swaarkry, help ek jou graag. Jou laste kry ’n rusplek op my skouers soos wat Galasiërs 6 my leer. Nee, ek doen dit nie net omdat jy oulik of vriendelik is nie. Of omdat ek wil hê jy moet sulke dinge terugdoen vir my nie, want dan is ek soos die Fariseërs van wie Jesus in Matteus 5 vertel wat ook maar net met daardie mense oor die weg kom wat van hulle hou. Nee, ek volg die roete van naasteliefde met jou omdat ek weet die Here gee baie om vir jou. En ek word deur Hom geleer om dieselfde te doen.


bottom of page