Die huwelik
top of page

Die huwelik


1 Tessalonisense 4:3-4 Op ‘n onlangse besoek aan die Italiaanse stad Luca, loop ons op die stadsmuur hoog bo die huise. Ek verkyk my aan die mooi en die uitsig op die dakke van die stad. Dit is prentjie mooi. Ek dink toe aan die hierdie stadjie wat omring is met ‘n veilige muur om die vyand en skelms uit te hou en vergelyk dit met ‘n huwelik. Ek stel my voor die huwelik is soos Luca in Italië, passievol met ‘n muur daarom gebou. Hierdie muur beskerm my huwelik en ons gesin. Dit hou ons veilig en geborge daarbinne. Man en vrou bly saam met hul kinders in hierdie veilige omgewing. Eerlikheid en integriteit is hul alarmstelsel. Niks kan daar verby kom nie en die gom of sement wat alles saambind en verstewig is die ewige liefde. Paulus skryf aan die gemeente in Tessalonika dat hulle heilig moet lewe. Jou huwelik moet heilig wees voor die Here. Jou veiligheidstelsels gaan permanent aangeskakel wees op “high alert”. Jy gaan nie oor die muur loer nie, want dan is jy nie eerlik nie en maak jy die deur oop vir verhoudings wat jou huwelik kan verwoes. Jy kan nie die duiwel vatkans gee op jou kosbaarste besitting nie. Jy moet vir jou huwelik veg met hand en tand. Eer jou huweliksmaat vir wie hy of sy is. As jy met jou man of vrou oor die telefoon praat moet mense die liefde in jou stem hoor. Jou huwelik moet ‘n voorbeeld wees vir ander. Dit moet ander mense aanmoedig om te trou om so ‘n verhouding te hê. Paulus spreek ook onsedelikheid aan. Wees versigtig vir pornografie. Dit verwoes alles. Meer nog, dit verneder jou huweliksmaat. Dit is ‘n dodelike gif wat alles in sy omgewing stadig vergiftig en vernietig. As jy heilig met jou huweliksmaat lewe, het jy net oë vir jou lewensmaat. Dan bederf jy daardie persoon en weet jy wat die liefdestaal is van sy persoonlikheid. Dan doen jy ook dinge buite jou eie geriefsone en persoonlikheid om die ander een gelukkig te maak. Bid vir jou huweliksmaat, eer hom of haar want dit is die wil van die Here.


bottom of page