Strong memory sharp mind [resensie]
top of page

Strong memory sharp mind [resensie]


Frank Minirth was president van die wêreldbekende Minirthkliniek in Texas en professor aan die Dallas Teologiese Seminarium wat as mediese dokter verskeie topverkopboeke geskryf het, waaronder Happiness is a Choice en A Brilliant Mind. Hy is in 2015 oorlede en dié boek eer nie net sy nagedagtenis nie maar bied ook sy nadenke oor die proses van veroudering en wat ‘n mens kan doen om sommige van die gevolge daarvan teen te staan.

As jy ouer word, raak dit byna valselfsprekend dat jou geheue jou in mindere of meerdere mate in die steek laat. Dat jy nie ‘n naam of ‘n pad kan onthou nie. Feit van die saak is: die proses van veroudering in terme van skade aan jou geheue begin op die jeugdige ouderdom van dertig!

Alhoewel ouer mense vandag fisies beter lyk as die vorige geslag se ouer mense en biologies waarskynlik gesonder is, kan dieselfde nie van die agteruitgang van hulle breinvermoë gesê word nie. Dit lyk eerder of demensie besig is om toe te neem, met die persoonlike, finansiële en sosiale reperkussies wat dit vir die pasiënt asook naasbestaandes inhou.

Die goeie nuus wat die dokter vir jou wil gee, is dat jou dieet en oefening jou kan help om nie net jou liggaam nie, maar ook jou brein gesonder te hou. Jy kan die verouderingsprosesse doelgerig vertraag sodat die agteruitgang van jou geheue en denkvermoë omgekeer word.

Wat nodig is, is dat jy die doel waarvoor jy lewe opnuut beskryf sodat dit jou lewe kan definieer.

Die boek bevat in elke hoofstuk talle oefeninge en uitdagings asook brain boosters wat jou in staat stel om onmiddelik iets aan die situasie te doen. Uit sy ervaring vertel die dokter ook talle verhale wat jou aangryp en die waarheid van wat hy sê, demonstreer.

Ook nuttig in die boek is die ekstra inligting (in aanhangsels) oor die verband tussen die brein en gebeure, Alzheimer se siekte en demensie, die belang om jou brein te stimuleer deur woordeskat uit te brei en, helaas, ook die antwoorde op die brain boosters waarmee jy in die boek uitgedaag is.

Jou geheue maak saak want dit gee betekenis aan jou lewe, help jou om smart en terugslae te verwerk, verryk jou verhoudings, herinner jou aan mylpale en geliefdes en kos jou niks maar verryk jou lewe. Daarom is dit so belangrik dat jy jou geheue na die beste van jou vermoë beskerm. Hier het jy ‘n gids wat jou vertel hoe om dit te doen, op praktiese en eenvoudige wyse wat duidelik gedemonstreer word.


bottom of page