top of page
deur Ashe Steenbok

3 April 1993


Ek staan in die gang by Karl Bremer-hospitaal. My ma roep my in om aan my pa se arm te vat. Ek wil nie want daar sit soveel kerksisters wat sit en huil rondom die bed. Ek weet die kerkmense bedoel partykeer goed, maar daar is sekere tye wat die familie in ‘n tyd van seer net alleen wil wees. Ek sien dit by die VGK en ander kerk veral waar wanneer ‘n familielid sterf dat daar so baie kerkmense kom inloer en bidure hou in die week voor die begrafnis. Daar is tye waar die familie wat seer het net alleen wil wees om hulle seer te verwerk…

Die oggend van 3 April 1993 is oom Henry vroeg by ons huis. Hy roep almal bymekaar in die voorhuis. ‘Pappe’ het gesterf laas nag…

Ek is sestien jaar oud en in graad 9. Ek weet nie hoe om dit te verwerk nie. Al die kerk mense begin stroom na die pastorie want dominee het gesterwe. Ek bel my beste ‘sjomma’ Victor en deel met hom die nuus… ek weet nie regtig wat om te sê of wat om te doen nie. Hoe gaan ‘n mens aan met die lewe. Ons lewens gaan nou drasties verander want ‘Pappe’ wat leiding gee en my in die lyn hou is nie meer daar nie. Wie gaan my tennis toe vat?

My ma is gebreek… sy lyk so deurmekaar. Hulle gee haar kalmeerpille en neem ons almal hospitaal toe. En daar lê my pa… hy lyk so snaaks op die hospitaalbed. Dit lyk nie soos hy nie, hy lyk so leeg. Die grootmense van die familie sê ek moet hom gaan groet. Ek wil nie want dit lyk nie soos hy nie.

Ek is graad 11… ek moet ‘n loopbaan kies… leer vir matriek… myself vind. Ek weet nie hoe verder nie… ek voel so deurmekaar!

Ek het my pa destyds op 16 nie ‘gelaaik’ nie, maar het hom broodnodig gehad. Dalk sou ek iets anders geword het in die lewe. ‘n Ander beter paaie gekies het en minder loopbaan en finansiële foute gemaak het. Daar is deesdae so ‘n oorbeklemtoning van die rol van vroue in die samelewing met die viering van vrouemaand en ander geleenthede, maar ons vergeet die kardinale rolle wat pa’s in seuns se lewens speel.

Tennis is nie meer lekker nie…


bottom of page