Gewone kinders van God maak die verskil
top of page

Gewone kinders van God maak die verskil


In J.R.R. Tolkien se bekende verhaal “The Hobbit" sê Gandalf ’n waar woord: “Some believe it is only great power that hold evil in check, but that’s not what I have found. It is the small everyday deeds of ordinary folk that keep the darkness at bay.” Inderdaad. Ons leef in ’n kultuur van superhelde, “celebrities” en groot presteerders wat selfs die kerklike wêreld geïnfiltreer het. Daarom dink baie mense dat net “groot gelowiges” deur die Here gebruik kan word. Hoor hier, dis nie waar nie. God is in elk geval nie in die “gebruikers-besigheid” nie. Nie een van ons is menslike objekte wat God net tot sy eie voordeel gebruik nie. Hy is ons Vader in Christus. Hy het ons innig lief. God doen elke dag lewe saam met ons. Hy het ons geskep en herskep om groot vreugde aan Hom te bring. Ons is lede van sy ewige hemelse familie. Jesus se eerste woorde aan ons was nie: “Gaan” nie, maar “Kom!” Hy het ook nie heel eerste vir ons gesê: “Gaan doen iets vir My nie,” maar: “Kom na My toe!” Ons leef sedertdien elke dag in die Here se huis as sy geliefde kinders. Hoor dan net hoe sing 1 Johannes 3:1 dit uit: “Kyk net watter groot liefde die Vader aan ons bewys het: Hy noem ons kinders van God, en ons is dit ook!”

As kinders van ons Hemelse Vader leef ons elke dag getrou op Jesus se roete. Op hierdie permanente pad van genade maak ons ons wonderlike God se Naam groot in alles wat ons sê, dink of doen. Of ons kuier, eet, of werk, ons doen dit in die teenwoordigheid van ons goeie Heer. Ons leef dag vir dag die donkerte rondom ons uit die pad. Doodgewone mense soos onsself wat God met oorgawe liefhet verskuif grense in Jesus se Naam. Ons omgee vir ander mense; ons deernisvolle woorde; ons raaksien van diegene in nood- dis hoe God se koninkryk in ons omgewing gebeur en dis ook hoe boosheid op die vlug slaan.


bottom of page