Die perfekte jy [resensie]
top of page

Die perfekte jy [resensie]


Die skrywer is ‘n spesialis in Kommunikasiepatologie wat in Suid-Afrika gestudeer het. Haar navorsing gaan oor die menslike brein en fokus daarop om die brein se potensiaal te ontsluit. Alhoewel sy tans in die VSA woon en werk, is haar hart nog in Suid-Afrika. Sy het reeds verskeie boeke oor die onderwerp geskryf, waaronder Maak ‘n kopskuif, wat baie goed verkoop het. In dié boek takel sy die onderwerp van identiteit. Jy is uniek, ‘n perfekte jy wat deur God geskep is. Hoe dikwels probeer mense dan nie om anders te wees as wat hulle is, om te probeer opleef aan die verwagtinge wat ander mense aan hulle stel nie?

Wat nodig is, skryf Caroline, is dat jy die perfekte jy ontdek en leer aanvaar. Jou identiteit het ‘n bloudruk wat deur God daar gestel is. Nou moet jy daardie potensiaal begin verwesenlik.

Die ‘Perfekte Jy’ verwys na elke mens se uniekheid, of bloudruk vir identiteit, wat deur ons vermoë om te dink, te voel en keuses te maak geprosesseer en blootgelê word. Sy maak die onderskeid: die verstand beheer die brein. Die Perfekte Jy is ‘n filter wat bepaal hoe jy as individu inligting verwerk en dit vorm die kern van ons wese. Dit kom tot uitdrukking in ons aktiewe verstand, deur die manier waarop ons dink, voel en keuses maak. En die verstand verander die brein.

Wat nodig is, is dat jy die potensiaal van die bloudruk vir jou identiteit ontdek sodat jy toksiese denke kan weerstaan. Dan eers kan jy groei na gesonde gedagtes, emosies, woorde en keuses. Solank jy deur vrees voortgedryf word, lei dit tot negatiewe gedagtes wat jou totale bestaan bedreig. Toksiese gedagtes en woorde lei tot toksiese emosies en keuses.

So leer jy dat jy baie meer is as jou IK, SK of EK. Wanneer jy die bloudruk van jou identiteit ontdek, vind jy die betekenis van jou lewe en ontdek jy jou Perfekte Jy. Die uniekheid daarvan kan nie in blote syfers en kategorieë van intelligensie gemeet word nie. Jy is soveel meer, ontwerp om in die eenheid van liefde, krag en verstand te funksioneer. En as jý kan jy iets doen wat niemand anders kan doen nie; die wêreld sal nie dieselfde sonder jou wees nie. Sodra jy werklik jou Perfekte Jy verstaan, sal jy as jý begin funksioneer. Jy sal bevry word van ‘n swak selfbeeld, afguns, jaloesie, selfbeheptheid en ander dinge wat jou breinweefsel effektief vernietig.

Daar het jy ‘n idee waaroor Leaf se boek gaan. Ontdek jouself – jy is briljant!

‘n Heerlike boek wat jou uitdaag om jouself te rek, terwyl die Skrif as riglyn gebruik word. Gee dit gerus vir iemand in wie jy glo, en sien hoe daardie persoon potensiaal begin verwesenlik waarvan hy of sy nooit gedroom het nie!


bottom of page