‘n Geseënde nageslag
top of page

‘n Geseënde nageslag


Op 18 September 1916 is Andries Johannes de Bruyn (Danie) de Jager gebore – om later die tweede oudste seun van 14 kinders te wees. En op 18 September 1940 is hy getroud met Mitha Catharina Hough – om nege maande later per skip saam met die SAP Brigade te vertrek Noorde toe waar hy vir die troepe moes kosmaak. Sy swanger vrou het agtergebly en vir drie en ‘n half jaar lank alleen hulle eersteling blondekop dogtertjie grootgemaak.

Hierdie twee mense het ‘n wonderlike erfenis nagelaat. In 2017 kan die Tseggiese mamma van een van Danie se agterkleinseuns getuig hoedat sy erfenis van liefde haar lewe aangeraak het. Komende uit ‘n vorige Kommunistiese land waar haar suster nog steeds haar ma met die hand en ‘n pikkie op die wang groet, het sy haar skielik in ‘n gesin bevind waar sy met liefde en ‘n warm hartlikheid ontvang is. Groot was haar verbasing om haar aanstaande skoonma te hoor sê: “Ek is lief vir jou!” En in haar eie huis loop sy nou oor van liefde – vir haar oulike klein seuntjie en sommer vir die uitgebreide familie ook.

Danie se vermoë om liefde (en ook vergifnis) te kon uitdeel, was gewortel in sy eie ouerhuis en sy kinderlike vertroue in sy hemelse Vader. Sy kinders kan almal daarvan getuig dat hulle God se Vaderliefde kan vertrou omdat hulle dit in hulle aardse pa se lewe ervaar het.

Miethie, weer, se erfenis van wysheid en insig het kleintyd haar eerste kleindogter se lewe makliker gemaak deur te wys hoedat ‘n mens ‘n moeilike kleutertjie kan laat bedaar deur rustig storietjies te vertel van Ouma se kleintyd. En dit met die eenvoudige storie van tuisgebakte brood in ‘n klei-oond voor die agterdeur. Heelwat later kon sy met Ouma se wysheid en insig haar eie kindertjies help om moeilike emosies op ‘n aanvaarbare manier te verbaliseer.

Ook Miethie se wysheid en insig het gegroei vanuit ‘n opregte verhouding met haar hemelse Vader, ‘n vaste voorneme om haar kinders groot te maak om self ‘n lewende verhouding met Jesus te kan hê.

Selfs die feit dat ek ‘n kind van Abraham genoem kan word, is ‘n erfenis van seën wat uit hierdie geloofsheld se lewe en voorbeeld voortspruit. En natuurlik die kosbaarste van alles: Jesus se erfenis wat dit vir my moontlik maak om kind van God genoem te kan word. Ons kan hierdie erfenis ons eie maak deur hierdie gawe van verlossing en ewige lewe in geloof aan te neem en daagliks vanuit dit te lewe. Dit is my voorneme om dit so uit te lewe dat ook ek ‘n erfenis nalaat wat geslagte na my kan beïnvloed. Wat van jou?


© 2024 Ekerk Vereniging.

Trots gebou deur Ekerk.

Ekerk bankbesonderhede:


Ekerk Vereniging,

ABSA Bank, Takkode: 632 005,

Rekening: 4059 699 232

South Africa | Suid Afrika

Payfast_white.png
snapscan grys_edited_edited.png
Zapper logo wit.png

Vind, volg & bevriend ons hier:

  • Whatsapp
  • White Instagram Icon
  • White Facebook Icon

Laai ons "app" af:

Apple store wit.png
bottom of page