Alles word duurder… en God sorg
top of page

Alles word duurder… en God sorg


Suid Afrika word ‘n baie duur plek om in te bly. Dit basuin al wat 'n koerant is oor die afgelope tyd uit. Mens voel dit elke dag aan jou sak as jy in die winkels rondstap. Verbruikerspryse in Suid Afrika het onder andere met 4,6 % jaar op jaar teen Julie 2017 gestyg, terwyl inflasie tussen 1968-2017 gemiddeld 9,17% beloop het. Jy beleef hoe duur alles is wanneer jy elke maand meer moet betaal vir basiese dienste. Die lewe is ‘n oorlewingstryd vir vele: pensioenarisse, werkloses, jong getroudes, kinders- maak nie saak nie! Vir almal kos dit ‘n arm en ‘n been om die pot aan die kook te hou. Wel, daar is natuurlik ook ’n klein groepie mense wat te veel het om van te leef. Maar hulle is ver in die minderheid. Altans, so voel dit. Want orals sien jy net armoede waar jy ook al kyk.

Binne hierdie duur wêreld het jy as ’n navolger van Christus een van twee opsies: of jy verval in die stereotipe patroon van kla en murmureer oor jou loodsware lot; of jy besluit om ‘n slag jou geloofsoog wawyd oop te maak en na God se kant toe te kyk. Dan kom jy agter op een of ander manier het gelowiges altyd genoeg om van te leef- nie te veel nie, ook nie te min nie. Maar elke dag is daar ‘n stukkie brood op hulle tafel. En ‘n warm kombers op hulle bed. God sorg vir sy al kinders. So skryf Dawid in Psalm 37:23-25. Wanneer hy as ‘n bejaarde terugkyk oor sy lang lewe, dan sien hy hoe die Here deur al die jare vir hom gesorg het; ook vir sy kinders en familie.

Gelowiges het regtig genoeg om van te leef- al glo baie kerklikes dit blykbaar nie. Want genoeg is vir die meeste te min! Nogtans sorg die Here vir al sy mense. Soos wat Hy die son elke dag laat opkom, laat reën Hy ook sy goedheid oor almal. Skep moed! Die lewe is nie regtig so duur soos wat jy dink nie! God, die groot Voorsiener, is by jou. Hy ken jou nood. Hy sal vir jou sorg- al moet Hy vandag klippe in brood vir jou verander.


bottom of page