God is nie ’n robot nie
top of page

God is nie ’n robot nie


Ek behartig vir die afgelope 14 jaar ’n klein rubriek in die dagblad Beeld van Dinsdae tot Saterdae, ook bekend as Goeie Nuus. Somtyds ontlok sekere rubrieke meer reaksie en interaksie as gewoonlik, soos die een van 12 September. Ek plaas dit graag en deel dan nog een en ander opmerking daarna:

“Die gewildste “geestelike” opmerking van ons dag is sekerlik: “everything happens for a reason.” Almal gebruik dit. In elke TV-storie en fliek hoor jy dit. Baie gelowiges meen dis ‘n Bybelse leerstuk. Hulle sê graag: “Alles gebeur met ’n doel.” “Wat moet gebeur sal gebeur.” Feit is, die Bybel leer dit nie. Die Bybel handhaaf God se almag, maar nooit word Hy uitgebeeld as ’n onpersoonlike hemelse programmeerder wat almal op aarde tot in die vêrste ewigheid vooruit geprogrammeer het nie. Dan is ons robotte. Dan is ons deel van ’n voorafvervaardigde hemelse film wat nou in die hemel afspeel en wat glad nie gewysig kan word nie. Dan help gebed niks en die grap is op ons. Gelukkig is God nie so nie. Hy is nie ’n robotagtige figuur nie. Hy, die Almagtige, is ook ons Vader. In Christus is Hy die God van verhoudings. Hy laat Hom vind deur elkeen wat na Hom soek. Hy luister na ons gebede en verander ons omstandighede.”

Ek was verstom dat mense my nie te veel afgeslag het omdat ek die planeet gunsteling een-lyner; “everything happens for a reason” aangedurf het nie. Baie mense het my vertel hulle het met sulke clichés groot geword. Toe onthou ek hierdie einste verwarring het myself ook vroeg-vroeg getref omdat ek met ’n “robotagtige" godsbeeld opgegroei het. Ek het God se werk eintlik net insidenteel verstaan (veral wanneer slegte dinge gebeur, want dan is ek geleer: “God praat nou weer hard met ons!”), maar nooit relasioneel of verhoudingsmatig nie. Ek het egter besef so 'n robotagtige teologie” werk net as alles stabiel is en die lewe soos stroop loop, maar definitief nie in 'n chaotiese SA nie. Gelukkig werk dit ook nie in die Nuwe Testament nie!

God is Ons Vader. Dis hoe Hy by ons aanwesig is. Elke keer troos Hy en dra Hy ons. Sy troos is nooit: “toemaar, Ek is in beheer” nie. Sy troos is altyd: “Ek is hier/ Ek is by julle!” Die grootste Bybelse troos vanuit Romeine 8 is nooit genoeg in ons almal ingeprent nie. Daar vra Paulus of enigiets in hierdie lewe ons kan skei van die liefde van God? Dan noem hy alle moontlike dinge op wat die potensiaal het om dit te doen, soos honger, gevaar, swaard, sonde, bose magte of die dood. Maar dan roep Paulus uit: Nee, niks kan ons van die God van liefde skei nie. Hy is ons Vader in Christus. Hy is by ons. Daarom sê Paulus in Romeine 14 dat of ons lewe en of ons sterwe- ons is Christus S’n.

Konklusie: Die Nuwe Testament se groot antwoord op die vraag van God is relasioneel, nie rasioneel nie! Rasioneel? Wel, dis daardie soort opmerkings soos “toemaar, jy sal later verstaan," of die standaard ene: "alles gebeur met ’n rede." Hierdie is kop-antwoorde (en ten beste net halwe waarhede!) Relasioneel? Wel, God is ons Vader. Hy werk nie insidenteel nie maar relasioneel. Hy is die God van verhoudings, nie van insidente nie. Hy is altyd en orals by ons.


bottom of page