Somtyds is die probleem “ek”
top of page

Somtyds is die probleem “ek”


Die bekende Britse skrywer uit die eerste deel van die vorige eeu – GK Chesterton – het eens die wêreld verstom met sy publikasie in ‘n plaaslike koerant. Iemand het die een dag ‘n kort artikel geplaas met slegs hierdie woorde:

What is wrong with this world?!

Die volgende dag reageer Chesteron met die woorde:

Dear sir

I am.

Yours sincerely

GK Chesterton.

Geen slimmighede nie. Geen gesofistikeerde uiteensetting nie. Geen verduideliking nie. Net kortweg die waarheid: Ek is die probleem.

Iemand wat so skryf neem die Bybelse realiteit van die algemene sondige natuur van elke individu uiters ernstig. Hy is egter nie onrealisties nie. Hy weet dis nie slegs hy wat hierdie wêreld negatief beïnvloed nie. Hy maak ook nie van sy eie sondaarskap sy primêre identiteit, of begewe hom in selfbejammering nie. Nee, Chesterton het geweet dat Jesus hom nuut gemaak het en dat genade oor sy ganse lewe geskryf staan.

Hy het egter besef dat in ‘n samelewing waar niemand ooit skuld erken nie, moet volgelinge van Jesus die voorbeeld stel. Hy weet dat in ‘n omgewing waar niemand ooit reageer sonder om te blameer nie, moet jy by jou eie gebrokenheid begin. Los eers die korrupte politici of skelm besigheidsvennoot of skynheilige predikant eenkant. As Jesus se volgeling moet jy soms die moontlikheid erken dat wanneer daar ‘n probleem is, dat die probleem nêrens anders as in die spieël gesien kan word nie.

Hoe verfrissend sal dit nie wees indien gelowiges optree met soveel selfinsig en nederigheid nie! Donald Miller vertel hoe dat hulle as studente op die universiteitskampus ‘n belydenishokkie begin het! Hierdie was egter nie ‘n gewone belydenishokkie soos in die Katolieke Kerk waar die priester jou sonde aanhoor en jou dan vryskeld met ‘n paar “Hail Mary’s” of “Onse Vaders” nie. Nee. Stomgeslaan was die studente op kampus wanneer hulle gekom het om ontslae te raak van hulle skuldgevoelens na hulle dronkpartytjies die vorige aand, net om aan te hoor dat Miller-hulle hulle eie tekortkominge – sowel as die ongeregtighede van die historiese kerk – bely het voor hierdie verslae studente.

Wanneer laas het ons ‘n politieke leier gehoor wat sy eie fout erken? Of ‘n CEO of ‘n bestuurder, ouer of predikant?

Wanneer laas het jy die woorde geuiter: “Ek is jammer, ék is die probleem”?


bottom of page