A different kind of happiness [resensie]
top of page

A different kind of happiness [resensie]


Die skrywer, Larry Crabb, het baie boeke geskryf waarvan sommige my lewe verander het. Insigte in sy Inside Out, Understanding People, The Marriage Builder, Finding God, Connecting, SoulTalk, Real Church en ander boeke kry jy nêrens anders so verwoord nie. Crabb het insig in mense omdat hy as sielkundige vanuit ‘n Christelike hoek met talle mense oor vele dekades gewerk het.

En nou kom hierdie interessante werk, oor wat ‘n mens se lewe werklik sinvol maak en gevul met vreugde. Ware geluk ontstaan in ware verhouding, skryf hy. En ware verhouding is gebou op liefde wat bereid is om opofferings te maak. Dis so eenvoudig soos dit. Maar ook so omvattend en diepgaande, of soos die Engelse woord dit stel, profound.

Jy sien vele mense wat ongelukkig is, en jy hoef nie eers ver te kyk nie. Liefde skort. Aanvaarding skort. En mense ly onder verhoudings wat skeefloop en teleurstel. Hulle klim kaalvuis onder mekaar in en skend mekaar se persoonlikhede met opmerkings en insinuasies. Omdat ons nie verstaan hoe om lief te hê soos Jesus bedoel het sy kinders sal liefhê nie. Ons stel ons eie belange en gerief, beeld en geluk voor ander. Ons beskerm ons en ons s’n, ten koste van ander indien nodig. En dit terwyl ons Meester ons kom leer het hoe om só te lewe dat ons lewe ‘n verskil maak – aan ander en onsself. Deur ons opofferende liefde.

Larry Crabb gaan jou motiveer om die mense in jou wêreld lief te hê met liefde wat verder gaan as om nice met mense te wees. Die liefde waartoe ons geroep is, dien en tree in verhouding met ‘n ander mens wat onvoorwaardelik aanvaar word. Dis liefde wat vir ‘n ander mens sê dat jy daardie mens hoor en sien en waardeer, en aanvaar. Dis ‘n liefde wat saam ly en saam huil, saam lag en saam swaarkry. Soms kos dit iets; jy moet jou tyd en aandag aan ‘n ander mens wy. Daardie mens stel jou dalk teleur of verraai jou, soos wat Jesus ook eerstehands geleer het. Maar tog maak dit jou nie sku om weer, en weer lief te hê nie omdat jy besef dis waarvoor jy bestaan. En waarvoor jy geroep is.

Dis die liefde waarmee ons Skepper en Redder ons liefhet. Sy liefde verander ons in ander mense. En dis die liefde wat die mense om ons, en onsself verander wanneer ons ander daarmee liefhet.

Larry weet hoe om onderhoudend te skryf sodat jy moeilik die boek neergesit kry. Hy stel verskeie vrae: wie is God? Waarheen is God op pad? Wie is ons? Wat het verkeerd gegaan? Wat het God aan ons probleem gedoen? Hoe werk die Gees om die goddelike oplossing vir ons probleem te implementeer? En hoe kan ons met die Gees saamwerk?

Dié boek is ‘n moet-lees vir alle Christene wat ernstig is om hulle lewe gewy aan die Here te leef.

Ek beveel dit ten sterkste aan.


bottom of page