Ligloop vir “onetiese amnesia” - die verkeerde soort geheueverlies!
top of page

Ligloop vir “onetiese amnesia” - die verkeerde soort geheueverlies!


Een ding wat ons almal in gemeen het is dat ons vergeet! Datums, afsprake, name- jy noem dit en ons vergeet dit. Dit wat ons eintlik moet vergeet, naamlik al die onregte wat ander aan ons doen, onthou ons lewenslank. Ons vergeet wat saakmaak in ons lewe en ons onthou wat ons eintlik behoort te vergeet. Ons is dus nie so vroom soos wat ons dink nie. Verskeie studies van proff. Francesca Gino en Maryam Kouchaki bevind juis dat ons minder detail oor ons eie onetiese gedrag uit die verlede onthou as van al ons ander gedrag. Hulle beskryf hierdie vermoë om ons goor gedrag blitsvinnig te vergeet as “onetiese amnesia.” Ons sien blykbaar nie kans vir die skuldgevoelens wat hiermee saamloop nie. Dit is volgens hulle ook die rede hoekom ons daardie einste onetiese dade in die toekoms dikwels weer herhaal.

Ons vergeet ons foute om ons skuldgevoelens te beperk en om ons gewetens stil te kry wat ons aankla as ons droogmaak. Daarom dat ons eie karaktervorming in God se teenwoordigheid nie behoorlik vorder nie. Hy duld immers nie sulke “onetiese amnesia” nie. Jesus nooi ons dringend uit om sy vrymakende roete te volg. Hy nooi ons uit om ons droogmaak-sessies van gister en eergister in die oog te kyk, maar om dit opreg aan sy voete neer te sit en dit ook net daar te los. Dan systap ons nie ons “fabrieksfoute” nie. Nee, dan gaan verantwoordelik daarmee om deur dit op die regte Plek te herken, te bely en ook te laat staan. Dan leef ons reg vorentoe uit die Here se genadehand. Dan onthou ons hoe genadig God is en deel ook hierdie genade met ander wat dit nog nie onthou of ervaar nie.


bottom of page