My prinses dagboek [resensie]
top of page

My prinses dagboek [resensie]


Karen Whiting. My prinses dagboek: 365 Dagstukkies. Christian Art Kids. 2016

Ek het twee kleindogters wat lewe vir stories wat met prinsesse te maak het. Hulle het die aanvoeling dat prinsesse baie spesiale meisies is, wat deur almal raakgesien en gekoester word. En wie wil nie ‘n prinses wees nie?

Die onderliggende boodskap in dié boek met dagstukkies is dat elke meisie uniek vir die Here is. Hy het elkeen met sy eie hande gemaak, en Hy het elkeen uniek gemaak. En Hy wil ook elke meisie soos ‘n prinses behandel en koester, en liefhê en in haar glo.

As jy ‘n dogter het en jy wil graag hê sy moet soos ‘n prinses voel, is dié boek vir julle. Elke dag gaan jou dogter (en jy) tyd met die Here spandeer. En sy gaan leer dat die Here haar Vader is omdat sy deel van sy familie is. Sy gaan leer wat is die Woord en hoe ‘n mens dit in jou lewe kan toepas.

Die boek gaan ook jou meisiekind help om die belangrike dissipline aan te leer om elke dag tyd met die Here en sy Woord deur te bring. Daar is gewoon geen ander manier om ‘n persoonlike verhouding met die Here uit te bou nie as om gereeld tyd in sy teenwoordigheid deur te bring. En deur dit saam met jou prinses te doen, vestig jy julle verhouding op ‘n gans ander basis. Want julle tyd saam voor die Here gaan veroorsaak dat julle ook in ‘n ander verhouding met mekaar staan. Julle gaan as’t ware met mekaar in die teenwoordigheid van die Here saamleef.

Elke dagstukkie bestaan uit die Koning se woorde, wat dan toegepas word op die prinses, gevolg deur ‘n gebed tot die Koning en afsluit met ‘n maklike aktiwiteit sodat die prinses in aksie sal kom wanneer sy van haar knieë af opstaan.

So is daar die dagstukkie dat ons in vrede met mekaar moet leef en help om mekaar se geloof op te bou (Romeine 14:19), gevolg deur die gedagte dat ons mense opbou deur hulle aan te moedig en te prys wanneer hulle iets goeds doen. Die aktiwiteit is dan om op die uitkyk vir iemand te wees wat iets goeds doen sodat jy daardie persoon kan aanprys. Dalk is dit Mamma wat lekker kos gemaak het of Pappa wat julle veilig by die huis gebring het.

Christian Art Kids het ‘n pragtige boek uitgegee wat elke prinses graag sal wil besit. Kry dit gerus vir die prinses in jou lewe!


bottom of page