Is hierdie aanklag waar oor jou?
top of page

Is hierdie aanklag waar oor jou?


In Handelinge 17:6 lees ek die mooiste aanklag ooit teen die kerk van die Here. Terwyl Paulus in die stad Tessalonika gepreek het, het heelwat mense tot bekering gekom. ‘n Klompie Jode het jaloers geraak en die inwoners teen hulle opgesweep. ’n Groep Christene is gevang en die volgende aanklag is voor die stadsraad van Tessalonika teen hulle ingebring: “Hierdie mense draai die wêreld onderstebo!” Het jy al so iets gehoor? Christene draai die wêreld op sy kop. Wel, die eerste Christene het presies dit gedoen! Hoe? Deel twee van die aanklag van die skare in Tessalonika verduidelik hoekom: “Hulle sê Jesus is Koning, nie die keiser nie” (vers 7). Daar het jy dit! Christene praat oor ‘n ander Koning, ‘n Koning wat mense se lewens aanraak en nuutmaak. Christene wat Jesus van harte liefhet, praat anders en doen anders. Hulle wêreld draai elke dag andersom. Is jy ook deel van hierdie onderstebo wêreld? Help jy om die wêreld gedurig op sy kop te hou daar by jou werk en tussen jou vriende? Doen jy dinge wat vreemd lyk vir ander soos wat Christus van jou vra? Wel, hoor hier en nou weer die Here se stem wat sê: “Volg My!” Dan is jy vandag weer iemand wat die wêreld agterstevoor laat draai!


bottom of page