Sê ’n slag nee; dis nie die einde van die wêreld nie
top of page

Sê ’n slag nee; dis nie die einde van die wêreld nie


Om soms vir mense nee te sê, is regtig nie die einde van die wêreld nie. Die Vaalrivier verander nie skielik in bloed nie. Paddas en muskiete begin nie neerreën uit die wolke wanneer jy vir iets of iemand net nee sê nie. Ook hou die Oranjerivier nie meteens op met vloei nie. Te veel “people pleasers” meen die wêreld stort in duie as hulle die slag die woord "nee" moet gebruik. Wat sal ander mense van hulle dink? Die regte roete is om te weet God se mening tel altyd die meeste in jou lewe. So ook dié van mense naby aan jou. Weet wat is God se roeping op jou lewe. Weet ook jy hoef nie alles vir almal te wees nie. Jy is nie die antwoord op elke vraag en probleem nie, God is! Hy gebruik jou, maar jy is net een mens. O ja, en as God jou gebruik, doen Hy dit meestal ten spyte van jouself, nie as gevolg van jouself nie!

Ander mense kan regtig sonder jou klaarkom en regkom. Gebruik jou energie en tyd wys sodat God jou nog meer effektief kan gebruik. Moenie jouself soos ’n kers op een slag uitbrand nie. Moenie, soos vele “spog” oor hoeveel keer jy al uitgebrand het nie. (Ek vertel graag vir geestelike leiers uitbranding is nie verpligtend as jy die Here dien nie!) Moenie jou lewe oorlaai met dinge wat jou net nog besiger maak, maar nie nog meer effektief nie. Besigwees en effektief wees is nie dieselfde nie. Vind jou regte lewensritme voor God en tussen ander, en hou daarby, al moet jy dikwels nee sê!


bottom of page