Bybelse profesieë en die eindtyd [resensie]
top of page

Bybelse profesieë en die eindtyd [resensie]


As jy een van talle Christene is wat boeke in die Hulle wat agterbly-reeks gelees het, is Tim Lahaye se naam vir jou bekend. Hy was medeskepper daarvan. Maar hy het ook tientalle ander boeke geskryf, heelwat daarvan wat handel oor die eindtyd en wat daar rondom verwag kan word.

Ons lewe in opwindende tye. Op ‘n gereelde basis haal nuusgebeure die voorblaaie wat enorme implikasies vir ons op aarde inhou. Ek dink aan aardverwarming, verhoudings tussen die Ooste en Weste, Brexit en die Amerikaanse presidentsverkiesing, ons eie land se korrupsie en ekonomiese ineenstorting, ensomeer.

Mense wat die Bybel lees, stel dikwels die vraag: het die Bybel iets te sê oor wat in ons dag gebeur? Kan ‘n mens hedendaagse wêreldgebeure in Bybelse profesieë vind? Die skrywer van hierdie boek is oortuig dat die antwoord daarop positief is en hy poog om vir jou riglyne te bied om Bybelse profesieë te interpreteer.

Die winspunt van die boek is die omvattende oorsig van God se plan met ons wêreld en die mensdom wat die breër agtergrond vorm wat die skrywer gebruik om by die eindtyd uit te kom.

LaHaye aanvaar dat die Here se koms terug na die aarde nader is as wat dit nog ooit vantevore was en dat dit inderdaad voor die deur is. Daarom vind hy in Bybelse profesieë duidelike tekens wat hy meen na die hedendaagse situasie verwys en wat aandui dat die wegraping voor die deur is. Hy verwag ‘n letterlike wegraping, wederkoms en duisendjarige vrederyk.

Daar is groot meningsverskil onder Christene hoe om die eindtydgebeure wat in die Nuwe Testament geskets word, dikwels in verhulde simboliese taal vol metafore, te verklaar. Wanneer jy dié boek lees, moet jy in gedagte hou watter standpunt die skrywer verteenwoordig.

Die boek is geskryf om as Bybelstudie te dien en dit bied ook diagramme om die gang van sake te verduidelik wat die skrywer beskryf. Hy doen ook moeite om die opvolg van gebeure te beskryf wat hy meen rondom die wederkoms gaan plaasvind. Op dié wyse stel hy toekomsvoorspellings in terme van ‘n tydskaal voor wat dit makliker maak om die eindtydgebeure te snap.

Hy stel belangrike vrae aan die bod, soos: waar is mense wat as gelowiges gesterf het nou? En mense wat as ongelowiges gesterf het? Wat behels die opstanding uit die dood? Wat beteken dit, dat Christene van die toorn gered sal word?

As jy belang stel in die eindtydgebeure en wat die Bybel hieroor te sê het, sal Tim LaHaye se boek vir jou heelwat antwoorde bied.


bottom of page