So systap jy 'n siniese lewe
top of page

So systap jy 'n siniese lewe


Ek onthou Oscar Wilde se gevleuelde opmerking: “a Cynic is a man who knows the price of everything, and the value of nothing.” Siniese mense is tereg, soos wat George Carlin sê, teleurgestelde idealiste. Dit is mense wat hard en koud geraak het. Die lewe het hulle so ontnugterd gelaat dat hulle alles met ’n knippie sout vat. Hulle betwyfel en bevraagteken almal. Hulle verwag gedurig die slegste van mense. Onleerbaar, skepties, altyd aan die spot en aan’t verdag maak- so lyk die lewe van enige sinikus. Die bekende rocksanger Bruce Springsteen vertel in sy outobiografie dat sy pa boonop nog ’n misantroop was- dit is iemand wat so sinies geraak het dat hy of sy niks meer van ander mense hou nie. Sy pa se filosofie was “nobody’s good, and so what if they are.” Hierdie is helaas die storie van vele se lewe.

Dit is hartseer dat party godsdienstiges ook hierdie siniese virus onder lede het. Ek hoor soms hoe siniese kerkleiers beterweterig of vermakerig praat oor ander se opregte pogings om God te dien. En hoe mense wat darem nog die regte geloofsgeluide maak net mooi alles in die kerk belaglik maak. Oppas hiervoor. Moenie toelaat dat jou hart hard word nie. Dan verander jou wêreld in ’n baie donker en gevaarlike plek. Laat die Here jou hart elke dag in sy sterk hand vashou sodat jy nie koud en sinies raak nie. Teken jou lewe elke dag oor aan Hom. Kies doelbewus om die lewe deur God se genadige oë te bekyk. Loop naby aan God sodat Hy jou kan leer om goeie dinge in ander mense raak te sien. Laat toe dat God jou hart oor en oor sagmaak met sy genade. Gebruik ook Jesus se oogsalf getrou soos wat Hy in Openbaring 3 voorstel, sodat jy sy genade in ander rondom jou kan raaksien. Verwag, glo en hoop die beste van ander, soos wat Paulus skryf in 1 Korintiërs 13. Dan sal hierdie vernietigende virus van sinisme jou niks maak nie.


bottom of page