In Gees en in waarheid [resensie]
top of page

In Gees en in waarheid [resensie]


Dr Isak Burger se naam is bekend in talle huishoudings in Suid-Afrika. Hy was tot verlede jaar die leier van die AGS van SA, die grootste Pinksterkerk in Suid-Afrika met meer as 1,2 miljoen lidmate. En hy was in ‘n belangrike sin die gesig van die Christelike kerk omdat die media sy kommentaar gevra het wanneer die pers wou weet wat die kerk dink.

Nou het hy afgetree en hy spandeer se tyd om steeds oor alle kerkgrense heen te preek. Maar terselfdertyd pen hy vanuit sy dekadelange ervarings met die Woord sy kennis neer. Nie dat dit iets nuuts is nie. Van sy boeke soos 5 minute voor en ná die dood en Die geesteswêreld, #3vers 16 en Soms sê Jesus nee het topverkopers geword.

Sy nuwe boek, oor die Heilige Gees en sy werking in die lewe van moderne gelowiges, gaan dieselfde pad loop. Daar is heelwat boeke oor die Heilige Gees gepubliseer maar wat uniek aan Burger se boek is, is die praktiese aanslag daarvan.

Hy doen moeite om Bybelse gegewens oor die Gees vir die leser te ontsluit: waar pas die Heilige Gees in die Ou Testament in, watter simbole word vir die Gees gebruik en hoekom, wat is die verband tussen God en die Gees, wat is die verband tussen Jesus as Messias en die Gees, watter rol het die Gees in die vroegste Christene se lewe gespeel volgens Bybelse getuienis?Dan praat hy ook oor die verband tussen die Gees en wedergeboorte, wat die belofte in Johannes 7:37-39 behels: ‘as iemand dors het, laat hy na My toe kom en drink. Die een wat in my glo, soos die Skrif gesê het, strome van lewende water sal uit sy binneste vloei.’ Wat is die verband tussen dié belofte en die doping of vervulling met die Heilige Gees? En wat is die verskil tussen wedergeboorte en doping met die Gees? Wat belangrik is, is dat die skrywer die Bybel aan die woord stel.

Hy stel ook die vraag wat al meer deur Christene gevra word: waar pas die spreke in tale in waarvan ‘n mens in Handelinge 2 lees, en daarna nog ‘n paar maal in Handelinge? Waarom die spreke in tale?

En dan kom hy by die praktiese uit: is die vervulling met die Gees ook vir vandag? En as ek met die Gees vervul wil word, wat moet ek doen? Wat kan ek verwag? Wat gaan die tekens en gevolge wees dat ek vervul is?

En: hoekom wil die Here mense met sy Gees vervul? Wat verander in hulle lewe wanneer hulle dit beleef?

Hy eindig dan sy omvattende studie met inligting oor die genadegawes van die Gees soos ‘n mens in 1 Korintiërs 12-14 vind.

Hier het jy ‘n boek wat prakties vir jou vertel oor die krag en werking van die Gees in die hedendaagse Christen se lewe, maar in elke opsig gebaseer op wat die Bybel leer. ‘n Handige en tydige gids wat jou lewe gaan verander omdat dit jou voorstel aan die Een wat gekom het om ons te verander om soos Jesus te wees – die Heilige Gees.


© 2024 Ekerk Vereniging.

Trots gebou deur Ekerk.

Ekerk bankbesonderhede:


Ekerk Vereniging,

ABSA Bank, Takkode: 632 005,

Rekening: 4059 699 232

South Africa | Suid Afrika

Payfast_white.png
snapscan grys_edited_edited.png
Zapper logo wit.png

Vind, volg & bevriend ons hier:

  • Whatsapp
  • White Instagram Icon
  • White Facebook Icon

Laai ons "app" af:

Apple store wit.png
bottom of page