Dit gaan nie oor gebed se krag nie, maar oor God S’n
top of page

Dit gaan nie oor gebed se krag nie, maar oor God S’n


“Gebed het krag.” Baie boeke en gesprekke oor gebed berus op hierdie uitgangspunt. Tog is krag nie die punt van gebed nie. As gebed bloot net krag sou hê, dan verskuif ons fokus vanaf God na gebed as ’n doel opsigself. In dieselfde asem verskuif die fokus dan ook na onsself wat daardie krag moet ontsluit. Dan handel die “krag” van gebed eintlik net oor die effek wat gebed hier aan ons kant van die draad het en nie oor God nie. “Kragtige gebede” kan gou-gou ’n selfsugtige roete word, want resultate is dan al wat saak maak.

Net so min as wat enige liefdevolle verhouding tussen ouers en kinders uitkoms-aangedrewe is, net so min is gebed primêr gerig op uitkomste en antwoorde. Dan verskraal ons God tot ’n Antwoordverskaffer. Of tot die Een wat gedurig moet regstaan om ons gebede te verhoor sodat ons vir almal kan vertel van die “krag” van gebed. Terloops, dink net hoe ongelukkig sal jyself wees as jou kinders gedurig vir almal vertel hulle het krag oor jou want hulle kry jou so ver om vir hulle te gee wat hulle wil hê. Dan sal jy dink dat hulle jou net tot hulle eie voordeel probeer gebruik om dinge vir hulleself te kry. So mag ons nooit oor die krag van gebed dink nie, want gebed gaan heel eerste, orals en altyd oor God!

Wanneer ons opreg met God praat, behoort ons nie nog die tyd of die lus oor te hê om te wonder of ons kragtig gebid het nie. Ons is nie daaglikse verbruikers van God se krag, soos wat ons dalk verbruikers van Eskom se krag is nie. Gebed wat reg gebeur gaan altyd oor God. Dit klink na iets maklik om te sê, maar om dit te beoefen, is iets anders. Want eintlik gaan baie gebede nie so baie oor God soos wat dit moet nie. Te veel van ons gebede is behoefte aangedrewe. Dit moet einde kry. Gebed is om leeg gestroop van onsself voor God neer te val. Dit is om al ons hoop op die Here te plaas. Gebed is leeg en vol tegelyk – leeg van onsself en vol van God se grootheid en eer. So bid ons reg.


© 2024 Ekerk Vereniging.

Trots gebou deur Ekerk.

Ekerk bankbesonderhede:


Ekerk Vereniging,

ABSA Bank, Takkode: 632 005,

Rekening: 4059 699 232

South Africa | Suid Afrika

Payfast_white.png
snapscan grys_edited_edited.png
Zapper logo wit.png

Vind, volg & bevriend ons hier:

  • Whatsapp
  • White Instagram Icon
  • White Facebook Icon

Laai ons "app" af:

Apple store wit.png
bottom of page