Waar is God wanneer alles verkeerd loop?
top of page

Waar is God wanneer alles verkeerd loop?


He has said, “I will never [under any circumstances] desert you [nor give you up nor leave you without support, nor will I in any degree leave you helpless], nor will I forsake or let you down or relax My hold on you [assuredly not]!” (Hebreërs 13:5b Amplified Bible)

Hierdie belofte word ‘n paar maal in die Bybel herhaal. Maar bo en behalwe die gewelddadige aanvalle en oorloë op so baie plekke in die wêreld, bring ‘n “volmaakte storm” al die bestanddele bymekaar wat tot gevolg het dat daar in die Knysna omgewing honderde formele en informele wonings deur die brand vernietig is. En hier by ons in Londen vernietig ‘n brand binne ‘n paar uur feitlik ‘n hele 24-verdieping woonstelblok.

Waar is God wanneer alles so verkeerd loop?

‘n Gesin sterf wanneer die dapper ouerpaar hul klein seuntjie en ongebore baba probeer beskerm teen die verterende vuur. In die Grenfell toringblok red ‘n desperate mamma haar dogtertjie se lewe deur haar deur die venster van haar vyfde verdieping woonstel te gooi in die vertroue dat ‘n buurman op die grond haar sal vang. Die kind is gered, die mamma nie.

Dit herinner my aan Jesus se hartseer oor die Jode wat nie wou dat Hy hulle bymekaarmaak soos 'n hen haar kuikens onder haar vlerke nie. Die Bybel vergelyk God ook met ‘n arend wat oor sy kleintjies fladder en hulle vang op sy vlerke wat hy oopsprei; hy dra sy kuikens op sy vlerke soos ‘n arend. Hy gee om, Hy het ons lief, Hy wil die beste vir ons – Hy is dáár, saam met ons in die verskriklikheid. Hy weet wat dit is om ‘n kind te verloor. Hy het ons nie verlaat nie. Al kan ons nie nou die doel daarvan sien of noodwendig die uitkoms kry waarop ons reken nie, Hy is by ons.

Ons klou graag vas aan en baklei vir status en regte en besittings, maar ondervinding wys dat dit oornag kan verdamp of in ‘n hoop as verander. Al wat wérklik belangrik is, is my verhouding met Hom wat my deur vuur kan dra, my wil leer vlieg soos ‘n arend. En hoe ek die lewe vir my mede-arendkuikens mooi en goed en leefbaar maak. Die eerste stap is ‘n eenvoudige gebed: “Here, ek het U nodig. Vergewe my en rus my toe om te léwe, te vlíég soos U wil.”


bottom of page