Leier Nuusbrief — Julie 2017 — Deel 1
top of page

Leier Nuusbrief — Julie 2017 — Deel 1


STAAN in die Kruisvuur

Ons moenie dink dat daar altyd eenheid in die kerk is nie. Ons verskil van mekaar. Ons moenie toelaat dat mense hierdie verskille wegsteek om ‘n vals siening van eenheid te skep nie. Ons moet ons verskille hanteer. Die teken van ‘n geloofsgemeenskap is nie die afwesigheid van konflik nie, maar die teenwoordigheid van ‘n versoenende gees. Ware Bybelse eenheid gebeur nie natuurlik nie. Dit moet doelgerig gebou word.

Ten spyte van ons fokus op eenheid is daar sekere dinge wat ononderhandelbaar is. Bybelse ontrou staan eerste op hierdie lys. Ons kan nie die duidelike onderrig wat Jesus Christus gegee het, afwater nie. Ons moet die gesag van die Skrif verdedig en die onderrig van Jesus uitleef. Dit is belangrik dat ons die Bybelse onderrig daagliks in ons lewens prakties uitleef. Nog iets wat ononderhandelbaar is, is verbale dissipline tydens konfrontasie. Ons kan nie op mekaar skreeu nie. Oppas vir stellings soos “altyd’ of “nooit”. Moenie agterlosig met die feite wees nie. Hou die volume van die gesprek laag. As dit sou gebeur dat mense op mekaar skreeu, moet ons eers verdaag en mense die geleentheid gee om af te koel. Dan kan ons terugkom vir ‘n beheerste, akkurate en konstruktiewe bespreking.

Hoe hanteer ons konflik?

  • Erken dat konflik onvermydelik is.

  • As (eerder as wanneer) dit gebeur het jy ‘n Bybelse verantwoordelikheid om dit op te los.

  • Gaan na die individu met wie jy ‘’n probleem het en probeer die konflik oplos. Moenie ander mense met skinderpraatjies probeer oorreed om jou saak te steun nie.

As jy verwag dat mens konflik moet onderdruk, mag jy net meer konflik veroorsaak. As jy konflik onderdruk, gaan dit ondergronds en vergiftig die gemeente. Uiteindelik kry almal seer. Konflik in die openbaar is beter as ‘n masker van eenheid.

Positiewe oplossing van konflik is net moontlik as jy ‘n atmosfeer skep waar negatiewe inligting aanvaar word. Om mense te kry om op ‘n regverdige manier van mekaar te verskil, is ‘n voortdurende proses. Kerkleiers het ook gevoelens wat ons altyd in ag moet neem as ons verskil en kritiseer.

Sommige mense is meer geneig om skadelike konflik te veroorsaak. Dit is gewoonlik mense wat emosioneel ongesond is. Hulle skep ook dikwels die soort konflik wat moeilik opgelos kan word, want hulle is geneig om alle verskille te internaliseer. Soek mense wat hulle pyn en swaarkry positief hanteer het. Ongesonde mense sê dikwels “ja” as hulle eintlik ‘nee” moes gesê het. Hulle sê dat hulle iets sal doen, maar weens werksdruk kom hulle nie dáárby uit nie. Ongesonde mense sukkel ook om hulle aan konstruktiewe evaluering te onderwerp. Daarom moet evaluering met sensitiwiteit en teerheid gedoen word. As mense bang of vyandig teenoor die evalueringsproses is, is daar dikwels ‘n onderliggende probleem wat ondersoek en verstaan moet word.

Nog ‘n manier om onnodige konflik te verhoed is deur alles wat vertroue afbreek te systap.

As jy vermoed dat iemand spanning ondervind, gaan sit by hom en hoor of alles nog reg is. Hoe meer interaktief jy is, hoe meer verhoed jy konflik. Kry mense om te praat voor die konflik ondergronds gaan. Konflik kan ‘n konstruktiewe deel van die kreatiewe proses wees.

Hoe ons reageer op konflik hang daarvan af of dit ons idees of ons persoonlik is wat aangeval word. As konflik die stadium van ‘n persoonlike aanval - suspisie oor jou integriteit, betroubaarheid of jou motivering – bereik, is dit baie moeilik om te hanteer. So ‘n gesprek vereis volwassenheid. Die persoon wat die aanklagte maak, moet volwasse genoeg wees om te besef wat hy doen; die persoon wat aangekla word moet volwasse genoeg wees om nie onmiddellik met ‘n teenaanval te begin nie. So ‘n gesprek gaan met ‘n hoë graad van kwesbaarheid gepaard.

Die moeilikste deel van die hantering van konflik is om te luister – nie te hoor nie, maar te luister.

As jy in die oseaan swem kan jy deur haaie of guppies (‘n klein Karibiese vissie) aangeval word. Vergeet van die guppies.

Om konflik reg te hanteer vereis volwassenheid. Om ‘n gemeente na Bybelse eenheid te lei begin by die leier. Elke keer as jy konflik probeer vermy word jou vel dikker en jou hart harder – daar ontwikkel ‘n afstand tussen jou en die mense om jou.

Twee vrae wat nominale Christene nie kan antwoord nie

Tim Keller stel twee vrae voor. Hulle fokus op ‘n groeiende verhouding met God. Dit gaan oor bewyse van God se teenwoordigheid in jou lewe. Hoe werklik was God hierdie week in jou lewe? Is jy verseker van sy vergifnis en Vaderlike liefde? Voel jy werklik sy teenwoordigheid in jou lewe.

1. Is daar bewyse dat die Skrif jou verander?

Het jy bevind dat die Skrif lewend en aktief in jou lewe is. Vind jy die Bybelse beloftes waardevol en bemoedigend? Bevind jy dat God jou uitdaag of roep deur iets in sy woord?

2. Bewyse van ‘’n toenemende waardering vir God se genade

Is God se genade heerliker in jou lewe as in die verlede? Is jy bewus van ‘n “groeiende sin van die bose in jou hart en in reaksie daarop ‘n “groeiende afhanklikheid en begrip van God se genade?

Hou jou brein skerp

Die brein weeg tussen 2 en 3% van jou totale liggaamsmassa, maar dit gebruik 20% van die liggaam se energie. Dit groei vinnig vanaf jou geboorte tot in jou middel twintigerjare. Daarna is dit afdraande. Jy kan eenvoudige stappe doen om jou brein skerp te hou ten spyte van jou toenemende ouderdom.

Soos ons ouer word, gebeur sekere breinprosesse onvermydelik.

- Ons brein se volume verminder met 5% per dekade na die ouderdom van 40 jaar. Ons brein bied weerstand teen hierdie agteruitgang – die sogenaamde kognitiewe reserwe.

- Dendriete aan die einde van breinselle (dink aan die wortels van ‘’n boom) begin in ons twintigerjare agteruitgaan. Hoe meer vertakkings in ons dendriete, hoe beter kan ons brein inligting verwerk.

- Die grys materiaal (= breinselle genoem neurone) begin agteruitgaan in die middel twintigerjare.

- Die insulasie miëlien (wat om die stert van die neuron vou) verdun met ouderdom. Hoe dikker die miëlien hoe vinniger reis die elektriese impulse langs die neurone. Hoe vinniger hou beter.

- Die reseptore vir die neuro-oordragstof (dopamien) verminder. Hierdie oordragstof speel ‘n belangrik rol in aandag en leer.

Wat kan ons doen om ons kognitiewe reserwe op te bou? Hier is vyf “use it or lose it” stappe:

1. Leer, leer, leer. Wees nuuskierig. Daag jou brein uit. Leer nuwe dinge; lees boeke en tydskrifte wat jou uitdaag. Kyk na kursusse vir volwassenes. Baie van die aanlyn kursusse is gratis.

2. Prioritiseer vriendskappe. Vriendskappe hou jou brein skerp. Want in ons interaksie met ander leer ons nuwe dinge - verskillende perspektiewe wat ons denke rek.

3. Oefen jou brein met breinspeletjies. Jy word nie net beter om die speletjies te speel nie, maar hulle verbeter jou breinkrag en kognitiewe reserwe. (’n Voorbeeld is Brain HQ).

4. Kry voldoende slaap, want tydens slaap word beta-amiloïed verwyder. Dit is die substans wat ophoop in Alzheimer se siekte.

5. Leer ‘n vreemde taal. As ons ‘n nuwe taal aanleer, maak ons baie doeltreffend van ons brein gebruik. Dit verbeter die brein se vermoë om homself te verander.

Wat ons met ons lewens doen en wat ons in ons denke invoer, kan ons brein verander. Daar is nog ‘n belangrike saak: hou jou aanbidding sterk. Aan die einde van chromosome is daar sogenaamde telemere (hulle is soos die plastiese deeltjies aan die einde van jou skoenveters). Diegene wat gereeld nadink het langer telemere. Daaglikse stiltetyd hou jou brein skerp.

As ons mooi na ons brein kyk sal hy ons goed dien. Die brein is deel van die liggaam en daarom moet ons aandag gee aan Paulus se woorde in 1 Korintiërs 6:19 – 20: Of besef julle nie dat julle liggame ‘n tempel van die Heilige Gees is nie. Julle het die Heilige Gees, wat in julle woon, van God ontvang en julle behoort nie aan julleself nie. Julle is gekoop en die prys is betaal. Julle moet dus God in julle liggame verheerlik.


bottom of page