Beskerm jouself
top of page

Beskerm jouself


Toe ons kinders tieners was, het ek baie keer vir hulle gesê dat ‘n mens eerder veilig tuis kuier, as weg van die huis in die moeilikheid wees. Moeilikheid het ‘n naam, Keuse! Wanneer mens die verkeerde keuses maak, kom die moeilikheid gewoonlik saam met die verkeerde keuse by die voordeur ingehardloop. Dan is daar gewoonlik nie ‘n tweede kans of die geleentheid om om te draai nie.

Die oplossing is voor die hand liggend. Moet dit nie doen in die eerste plek nie. Dit is egter heeltemal te eenvoudig om dit te sê. Daarvoor is daar net dood eenvoudig te veel verkeerde keuses. ‘n Beter oplossing sou dalk wees om ons harte beter te beskerm. Hoe doen ons dit? Deur voortdurend te waak en te bid. Ons moet twee keer dink, en bid, want die vlees is swak.

So baie keer hoor ons nadat iemand in die moeilikheid gekom het, ek weet nie hoekom ek dit gedoen het nie. Of, ek het nie gedink dit sal met my gebeur nie. Beskerm jou gedagtes en jou dade deur gereeld te bid en die Here te vra om jou te beskerm van verkeerde besluite wat kan aanleiding gee tot sonde.

Wanneer jy naby aan die Here leef sal jy die wysheid hê om die regte keuses te maak, jou hart te beskerm en weg te bly van ‘n destruktiewe pad van sonde af.


bottom of page