Isoleer versus insuleer
top of page

Isoleer versus insuleer


Sommige godsdienstiges is aan't vlug uit die wêreld. Hoe verder hulle uit sonde se pad kom, hoe beter. Tog help dit nie. Verkeerde dinge maak nes in mens se harte. Dit setel nie in dooie dinge nie, maar binne-in lewende mense. Boosheid kom altyd van binne af, soos wat Jesus en Paulus geleer het. Daarom is wegvlug nie 'n goeie opsie nie, want sonde emigreer elke keer saam. Vergeet dus van isolering. Vergeet van ontsnap uit die wêreld. Kies eerder vir insulering! Soos wat enige elektriese drade met die regte omhulsels geïnsuleer word om mense se veiligheid te verseker wat daardie kragkabels hanteer, moet ons ook toelaat dat God ons insuleer sodat ons in die regte lewe voluit kan leef tot Sy eer. Sy insulasie sluit in gebed; studie van die Woord en gereelde samekomste met ander gelowiges. Nee, God het ons nie gemaak vir wegkruip nie. Hy wil juis hê ons moet in sy wêreld getuies wees van ‘n nuwe wêreld wat aan’t kom is. Maar Hy rus ons deur sy Heilige Gees se teenwoordigheid toe om stroom-op te leef. Ons is in die wêreld, maar nie van die wêreld nie.


bottom of page